On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Waterbeperkings: Vrystaatse munisipaliteit swyg glo oor lekkasies

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:00 Tue, 20 May 2025

Waterbeperkings: Vrystaatse munisipaliteit swyg glo oor lekkasies | News Article
“Matjhabeng verwerp steeds elke aanbod van hulp.” Foto ter illustrasie: iStock

’n Dringende beroep word op ’n Vrystaatse munisipaliteit gedoen om verantwoordelikheid te aanvaar en saam met gemeenskappe en burgerlike organisasies te werk om volhoubare oplossings vir die voortdurende waterkrisis te ontwikkel.

Inwoners van Welkom verduur steeds ernstige waterbeperkings as gevolg van Matjhabeng-munisipaliteit se voortdurende versuim om sy finansiële verpligtinge na te kom en om burgerlike organisasies in staat te stel om broodnodige herstelwerk aan waterlekkasies uit te voer, sê Christa Ikking, AfriForum se distrikkoördineerder vir die Hoogland.

“Matjhabeng-munisipaliteit het inwoners onlangs in kennis gestel dat Vaal-Sentraal-Water (VSW) van voorneme is om die (stad) se watervoorsiening te beperk weens die munisipaliteit se wanbetaling.”

Volgens Ikking skuld die munisipaliteit ongeveer R6 miljard aan die waterverskaffer.

Christa Ikking. Foto Facebook

“In Julie verlede jaar het AfriForum daarin geslaag om soortgelyke beperkings deur VSW te voorkom, en ’n ooreenkoms is tussen die munisipaliteit en VSW bereik. Die jongste ooreenkoms, wat die munisipaliteit blykbaar onder dwang aangegaan het, het weereens verseker dat die watervoorsiening die afgelope naweek aan inwoners herstel is,” het sy gesê.

Ikking wys egter daarop dat die munisipaliteit blykbaar nie die eerste ooreenkoms nagekom het nie. “Watter versekering het inwoners dat die munisipaliteit nie weer sy finansiële verpligtinge teenoor VSW sal verwaarloos nie?”

“Daarbenewens kan die waterraad nie vertrou word om nie weer sulke drastiese maatreëls in die toekoms te tref en die inwoners met ongrondwetlike waterbeperkings te straf nie.”


Sy sê die munisipaliteit ignoreer steeds elke poging van AfriForum om waterlekkasies in die dorp aan te spreek.

Volgens Ikking het die burgerregteorganisasie langer as ’n maand gelede ’n brief aan die munisipale bestuurder gestuur het waarin hulle die herstel van ’n groot waterlek in die dorp versoek het.

Gemeenskap ly al maande lank onder waterbeperkings

“Nadat die munisipaliteit die brief geïgnoreer het, het AfriForum die munisipale bestuurder ongeveer ’n week gelede weer gekontak en gevra dat die watertoevoer na Tempestweg afgeskakel word sodat hul Welkom-tak die groot lek self kon herstel.”

Die versoek is glo ook geïgnoreer, ten spyte van verskeie direkte boodskappe aan beide die munisipale bestuurder en die burgemeester.

“Die gemeenskap ly al maande lank onder waterbeperkings en voorsieningsprobleme wat deur talle lekkasies veroorsaak word, maar Matjhabeng verwerp steeds elke aanbod van hulp. Terwyl die munisipale bestuurder elke oproep, boodskap en brief van AfriForum ignoreer, word inwoners agterweë gelaat om die verdere agteruitgang van hul dorp te verduur,” sê Ikking.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.