Central SA
Noord-Kaapse leerder gaps onnie se kar, beland in kanaal─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:46 Tue, 20 May 2025

’n Noord-Kaapse onderwyseres sit met haar hande in die hare nadat ’n leerder – wat veronderstel was om haar motor te was – dit sonder toestemming geneem en in ’n kanaal ingery het.
El-Zané du Plessis, wat die afgelope vier jaar skoolhou by ’n gekombineerde skool in die omgewing van Vaalharts, moet nou die nadraai van die voorval hanteer.
Volgens Du Plessis het hoërskoolleerders Donderdag (15/5) ’n geldinsameling gehou as deel van hul sportdag. “Daar was onder meer ’n motorwassery as deel van die insameling.
Die motor is moontlik afgeskryf. Foto verskaf
“Soos altyd was ek huiwerig om hulle my motor te laat was, maar hulle het na my klas gekom en my gesmeek. Ek het gevoel dit was vir ’n goeie doel en het ingestem.”
Volgens du Plessis het sy van plan verander toe sy sien hoeveel motors gewas word en dat die leerders harde musiek speel. “Ek was bang hulle sou dalk nie verantwoordelik optree nie en my motor krap of beskadig.”
Sy het toe ingestem dat hulle die motor, saam met nog ander motors, Vrydag kon was toe dinge stiller sou wees. Die hoof se motor was ook een van die motors wat gewas moes word.
‘Moenie die motor krap of beskadig nie’
Sy vertel dat die leerders al vroeg die volgende oggend gekom het om haar motorsleutels te vra. Sy het saam met hulle gestap om die motor oop te sluit en haar waardevolle items uit te haal.
Volgens Du Plessis het sy dit duidelik gemaak dat die motor homself na ’n rukkie sou sluit en hulle opdrag gegee om nie die sleutel binne te los nie. Sy het haar gewone waarskuwing gerig: “Moenie die motor krap of beskadig nie,” en toe na haar klaskamer teruggekeer.
“Omstreeks 11:45 het ’n leerder my kom roep. Ek het aangeneem dat hulle die motor klaar gewas het en wou hê ek moes die motor inspekteer.
Foto verskaf
“Maar toe sien ek ’n leerder (kop) onderstebo op die trap sit – ek het dadelik na my motor begin soek.” Du Plessis is deur die leerder meegedeel dat hulle haar motor gebruik het om emmers iewers heen te neem. Toe hy uitswaai vir ’n hond en het hy met haar motor in die kanaal te land gekom.
“Ek het dadelik na die skoolhoof se kantoor gegaan. Hy was in die sekretaresse se kantoor saam met ander onderwysers.
“Ek het hom vertel wat gebeur het en het hom gevra om saam met my te kom, maar hy het ’n ander onderwyser opdrag gegee om my te vergesel na die toneel.” Du Plessis sê ’n ontstelde ma op die toneel het haar meegedeel dat haar kind amper getref is, en dat die leerder roekeloos bestuur het.
Weggewys deur die skoolhoof
’n Groep mense, onder andere die oom van die leerder wat die motor bestuur het, was reeds op die toneel. “My man was ook op die toneel en het met hom gepraat.
“Hy was baie ontsteld, want toe hy skool toe is om uit te vind wat gebeur het, het die skoolhoof hom weggewys en hom na (die onderwyser wat saamgestap het) verwys.”
Volgens du Plessis het sy die skoolhof van die toneel af gebel en hom gevra om te kom omdat daar ernstige skade aan haar motor was. “Hy het geweier en gesê dit is ’n polisiesaak.”
Foto verskaf
Du Plessis en die onderwyser het na die skool teruggekeer. “Ek het vir die skoolhoof foto’s van my motor gewys en vir hom gesê ek glo dit is ’n afskrywing.”
Sy sê die skoolhoof het ook geweier om saam met haar na die polisie te gaan. “Die skoolhoof het (die ander onderwyser) verskeie kere gevra om saam met my te gaan, maar hy was te geskok en wou nie betrokke wraak nie.”
’n Ander onderwyser haar toe na die motor vergesel, waar die polisie reeds was. Du Plessis het die situasie aan die polisie verduidelik, wat gesê het hulle sal ’n ander eenheid stuur om verder te ondersoek.
Foto verskaf
Die ma op die toneel het ook aan die ander onderwyser gesê dat die leerder eintlik vir haar en haar kind uitgeswaai het, nie na ’n hond soos hy vroeër beweer het nie. Die polisie het later teruggekeer, die pad afgesluit en Du Plessis se volledige verklaring afgeneem.
Volgens haar is die motor waarskynlik afgeskryf as gevolg van uitgebreide sigbare skade, sowel as skade aan die ratkas, onderstel, enjin en verkoeler.
Seun het Donderdag óók met die motor gery
Later daardie middag het ’n ander onderwyser glo aan Du Plessis gesê dat dieselfde leerder haar motor die Donderdag sonder toestemming geneem het en daarmee rondgery het.
Dit het ook aan die lig gekom dat ’n derde seun betrokke was en dat hy so onveilig gevoel het tydens die rit in Du Plessis se motor dat hy voor die ongeluk teruggekeer het skool toe. Du Plessis doen regstappe.
OFM Nuus het die skoolhoof om kommentaar genader. Hy sê die saak word deur die provinsiale onderwysdepartement behartig.
OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh