Central SA
Noordwes: Vervolging begin sewe jaar ná weermag perde glo mishandel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:24 Thu, 22 May 2025

Nadat die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) sewe jaar lank geregtigheid gesoek het, verwelkom hy die vervolging van twee instellings vir die beweerde ernstige verwaarlosing en verhongering van militêre perde in Noordwes.
Die organisasie is dankbaar dat geregtigheid moontlik sal geskied ná die langverwagte besluit van Noordwes se Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) om vervolging teen die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en die Suid-Afrikaanse Leër se Spesiale Infanterie-eenheid in te stel, sê dr. Bryce Marock, die NDBV se konsultantveearts.
“In 2018 het die NDBV gereageer op berigte van perde in ’n haglike toestand by die eenheid in Potchefstroom. Ten spyte van ’n ooreenkoms tussen die NDBV en SANW om die welstand van militêre diere te beskerm, het NDBV-inspekteurs perde aangetref wat in onvoldoende fasiliteite gehuisves is en aan uiterste wanvoeding gely het.
“Sommige was so desperaat dat hulle grond en hul eie ontlasting begin vreet het. Vyf-en-twintig perde was so erg uitgeteer en verwaarloos dat daar geen vooruitsig op herstel of rehabilitasie was nie, waarna ons die besluit geneem het om hulle van kant te maak.”
Twee instellings word ná sewe jaar vervolg weens die mishandeling van perde. Foto: NDBV
Hy sê nadat die weermag versuim het om noemenswaardige stappe te doen, het die NDBV verdere ondersoeke en ingrypings uitgevoer. “Baie van dié perde was uitgemergel en het aan ernstige gesondheidsprobleme gely.
“Tog kon sommige van hulle herstel en het hulle uiteindelik liefdevolle en geskikte tuistes gevind, danksy die NDBV se ingryping.”
Volgens Jacques Peacock, NDBV-woordvoerder, is altesaam 69 perde tydens die optrede van die Potchefstroom-basis verwyder, terwyl 25 so kritiek was dat hulle van kant gemaak moes word.
Onwrikbare toewyding aan geregtigheid
Hy sê hierdie mylpaal beklemtoon die NDBV se onwrikbare toewyding aan geregtigheid en die beskerming van diere – selfs te midde van sistemiese weerstand.
“Sewe jaar lank het dossiers verdwyn, beskuldigdes het geweier om saam te werk, herhaalde versekerings van die Potchefstroomse polisie dat die saak hof toe geneem is, is later vals bewys,” sê Peacock.
Teen 2022, langer as vier jaar nadat die aanklagte aanvanklik aanhangig gemaak is, het die saak steeds nie ’n aanklaer bereik nie. “Daar was ’n duidelike patroon van sistematiese apatie en verwaarlosing,” sê Peacock, “nie net van die SANW nie, maar ook van die polisie.”
Altesaam 69 perde is verwyder. Foto: NDBV
Ná jare van volgehoue druk en regsdokumentasie het die NDBV uiteindelik ’n deurbraak gemaak toe die Noordwes-DOV onlangs bevestig het dat strafregtelike vervolging teen die SANW en die eenheid ingestel sou word vir oortredings van die Dierebeskermingswet (Wet 71 van 1962).
“Hierdie besluit herbevestig ons beginsels en ons verbintenis tot dierewelsyn in elke sektor van die samelewing – selfs op plekke waar ons teenwoordigheid moeilik of onwelkom is,” sê Peacock.
Sommige van die perde was so kritiek hulle moes van kant gemaak word. Foto: NDBV
“Die feit dat dit sewe jaar geneem het om hierdie punt te bereik, is ’n aanklag teen instellings wat ’n grondwetlike plig het om wet en orde te handhaaf – maar eerder versuim het om op te tree.
“Ons moes alles doen – van direkte reddingsoperasies tot volgehoue regsdruk – om selfs ’n skyn van geregtigheid te verseker. Dit is nie hoe dit moet wees nie, maar dit bewys wat moontlik is wanneer ’n organisasie weier om moed op te gee,” sê Peacock.