Central SA
Skenkings broodnodig vir vierpotiges─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:21 Thu, 22 May 2025

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Kimberley vra inwoners moet dié winter nie vergeet van hul vierpotige vriende nie.
Weens meer as 150 honde en 35 katte in hul sorg sukkel die skuiling om elke dier warm en gevoed te hou.
Die DBV het dringend komberse, handdoeke en warm beddegoed nodig om honde- en kattehokke teen die koue te isoleer. Benewens komberse vra hulle ook die gemeenskap om katsand, katjie- en hondjiekos te skenk, wat alles min word gedurende hierdie uitdagende tyd.
Volgens PetMD is honde, net soos mense, soogdiere. Hulle kry dus ook koud. Hoewel honde ’n pelsjas het wat help om ’n mate van isolasie en beskerming teen die weer te bied, is hierdie laag nie genoeg om hulle te beskerm teen langtermynblootstelling aan die koue nie.
Diere met kort hare is geneig om vinniger koud te kry. Foto verskaf
Honde het ledemate – ore, voete en sterte – wat gewoonlik nie veel pels het nie en geneig is om te vries.
Tekens wat daarop kan dui dat jou hond koud kry:
- bewerasie;
- geboë postuur en stert tussen die bene;
- tjank of blaf;
- verandering in gedrag, soos angstigheid of ongemak;
- soek plekke vir skuiling; en
- probeer pote van die grond af hou.
Hoewel dit die beste is om jou troeteldiere binnenshuis te hou gedurende koue weer, moet sommige diere buite slaap.
Hier ’n paar wenke om hulle veilig en warm te hou:
- Bou ’n behoorlike skuiling: Maak seker dat jou troeteldier toegang het tot ’n droë, geïsoleerde skuiling wat hulle teen wind en reën beskerm. Die skuiling moet van die grond af gelig wees en ’n flap of deur hê om die trek uit te hou.
- Gebruik warm beddegoed: Vermy komberse wat vog hou. Gebruik liewer strooi, houtskaafsels of spesiaal ontwerpte troeteldierbeddegoed wat warm en droog bly. Kontroleer dit gereeld om te verseker dat dit skoon en nie klam is nie.
- Isoleer die skuiling: Bedek die binnekant van jou troeteldier se skuiling uit met skuimbord, ou matte of weerkaatsende isolasie om hitte te behou. Maak seker dat jy nie materiale gebruik wat jou troeteldier kan kou of wat skadelik kan wees nie.
- Trek hulle warm aan: Sommige troeteldiere baat by die dra van ’n jas of trui, veral kleiner of korthaarrasse. Maak seker dat dit droog is en behoorlik pas.
- Voorsien ekstra kos en vars water: Diere verbrand meer kalorieë in koue weer om warm te bly. Verhoog hul voedselinname effens en maak altyd seker dat hulle toegang het tot vars, ongevriesde water.
Sorg dat jou diere warm is dié winter. Foto: iStcok
Indien jy ’n bydrae wil lewer, kan skenkings op een van die volgende maniere gemaak word.
Aflewering van skenkings by die DBV:
Weeksdae: 08:30 –12:00 & 13:00 –16:30
Saterdae: 08:30 –12:00
Stuur items via Takealot-aflewering na:
Net langs Molyneauxweg, Cassandra, Kimberley
GPS: 28°44'58.7"S 24°47'44.5"O
Kontakpersoon: Mario van der Westhuizen
Afleweringskontak: 082 376 7679
Ander skenkingsopsies is beskikbaar – skakel die DBV direk vir nog inligting oor hoe om te ondersteun:
Kontak die DBV Kimberley by 053 831 7721
OFM Nuus cg