On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 Saturday Nights with OFM
Listen Live Streams

Central SA

DA vra planne ná Noord-Kaap se misdaad toeneem

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:30 Sat, 24 May 2025

DA vra planne ná Noord-Kaap se misdaad toeneem | News Article
Reinette Liebenberg. Foto: DA

‘n Versoek is aan die provinsiale polisiekommissaris gerig om planne voor te lê oor hoe die polisie geweldsmisdaad gaan verminder in die Noord-Kaap nadat die misdaadstatistieke ’n toename gewys het.

Suid-Afrika se jongste misdaadstatistieke vir die vierde kwartaal van die 2024/25-boekjaar, wat die tydperk van 1 Januarie tot 31 Maart 2025 dek, is Vrydag (23/5) deur minister van polisie, Senzo Mchunu, bekendgemaak.

Dit het aan die lig gekom dat die Noord-Kaap die enigste provinsie is met ’n toename in moord en kontakmisdaad.

Die DA het lt.gen. Koliswa Otola,  provinsiale polisiekommissaris, versoek om volgende week die planne by die inligtingsessie oor provinsiale misdaadstatistieke voor te lê, sê Reinette Liebenberg, LPW en die DA se Noord-Kaapse woordvoerder vir vervoer, veiligheid en skakeling.

Die DA het Otola gevra om haar planne te deel oor hoe sy die groeiende misdaadvlakke van die gewelddadige en moorddadige Noord-Kaap wil aanspreek in ’n klimaat van kwynende finansiële en menslike hulpbronne.

Volgens Liebenberg wil hulle weet hoeveel van die 5 500 polisiestudente na die Noord-Kaap ontplooi sal word.

Kontakmisdaad het ’n toename van 72 gevalle getoon

“In vergelyking met dieselfde periode verlede jaar, het kontakmisdaad ’n toename van 72 gevalle getoon, met moord wat ’n toename van 21 gevalle weerspieël. Kakamas se polisiekantoor het ook by Galeshewe, Kimberley en Rosedale se kantore aangesluit op die top 30-lys vir poging tot moordgevalle.”

Dit is die eerste keer dat die provinsie vier stasies op hierdie lys aangeteken het.

Liebenberg sê aanranding met die doel om ernstig te beseer het met 82 gevalle toegeneem. “Die Noord-Kaap het sy posisie behou as die provinsie met die derde hoogste persentasie verkragtings in die land, wat ’n toename in verkragting en seksuele aanranding weerspieël.”

Handelsmisdaad bly ook styg, met 69 bykomende gevalle wat aangemeld is.

Polisie se teenwoordigheid eenvoudig nie genoeg

Sy sê die toenemend onveilige, gewelddadige en korrupte aard van die Noord-Kaap dui op ’n groeiende gevoel van wetteloosheid, waar die polisie se teenwoordigheid eenvoudig nie genoeg is om die verspreide gemeenskappe van hierdie uitgestrekte provinsie te verdedig en misdaad af te skrik nie. 

“Dit word vererger deur ’n tekort van R50 miljoen om toekennings aan stasies (vir polisiëringsvoertuie) aan te spreek, soos vroeër vanjaar deur die DA uitgelig.”

Liebenberg sê dit is van kardinale belang dat die Nasionale Polisiebeleid, wat onlangs aangekondig is, in die Noord-Kaap geïmplementeer word om verbeterde en gespesialiseerde veiligheid en wetstoepassing deur die SAPD te verseker.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.