Central SA
Kommer bestaan oor ‘lae aanmeldingskoers van misdaad in Vrystaat’─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:19 Sat, 24 May 2025

Hoewel die polisie-misdaadstatistieke ’n afname in misdaad in verskeie kategorieë in die Vrystaat aandui, is daar onder meer kommer oor die gebrek aan hulpbronne, soos voertuie en personeel by polisiestasies.
Daar is ook kommer oor die moontlikheid van ’n lae aanmeldingskoers van misdaad in baie kategorieë en dat die afnames die gevolg is van wantroue in die strafregstelsel en nie noodwendig ’n afname in misdaad is nie, sê Roy Jankielsohn, DA-woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in die Vrystaatse Wetgewer.
“Een manier om dit te bewys, is deur te kyk na misdaad soos diefstal van motorvoertuie en motorfietse, waar versekeringsmaatskappye aanmelding vereis om versekeringseise te verwerk.”
Jankielsohn sê in hierdie opsig het die misdaadkategorie ’n beduidende toename van 11.1% getoon. “Net so het die landbousektor ’n ernstige probleem met veediefstal, wat volgens polisiestatistieke ook afgeneem het, maar dit is ’n gebied waar aanmelding nie plaasvind nie as gevolg van lae skuldigbevindingsyfers en baie swak reaksietye.”
LEES OOK: Free State station among top 10 with reported serious crimes
Hy sê terwyl die moordsyfer effens afgeneem het, ervaar die Vrystaat steeds gemiddeld meer as twee moorde per dag, wat onaanvaarbaar hoog bly vir so ’n klein provinsie. “Daarbenewens het die provinsie die tweede hoogste verkragtings per capita-verhouding in die land en vir die aangemelde kwartaal meer as sewe verkragtings per dag ervaar.”
Navorsing het aangedui dat verkragting nog ’n misdaad is wat ondergerapporteer word en die koers is heel waarskynlik baie hoër.
Straf bly beste afskrikmiddel vir misdadigers
Volgens Jankielsohn is die DA van mening dat die polisie in die Vrystaat ondersteuning benodig in terme van hulpbronne om misdaad te bekamp, asook die verhoogde gebruik van tegnologie in landelike gebiede en in die stryd teen oorgrensmisdaad.
“Ons glo dat die strafregstelsel ons slagoffers van misdaad in die steek laat en ’n negatiewe ekonomiese impak op ons provinsie en land het. Die beste afskrikmiddel vir misdadigers bly die wete dat as jy ’n misdaad pleeg, jy opgespoor, skuldig bevind en gestraf sal word.”
Jankielsohn sê die DA in die Vrystaatse Wetgewer het ’n privaat lede-wetsontwerp ingedien wat, indien dit aanvaar word, groter toesig en verantwoordbaarheid deur die provinsie oor die SAPD sal verseker en verhoudings en kommunikasie tussen die SAPD en gemeenskappe sal verbeter.