On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Potchefstroomse hondeaanval: Saak tot Augustus uitgestel

───   ZENANDE MPAME 14:44 Wed, 28 May 2025

Potchefstroomse hondeaanval: Saak tot Augustus uitgestel | News Article
Chandré Mostert (middel) en Marno Mostert (regs) voorheen saam met hul regsverteenwoordiger, Anei de Waal, buite Potchefstroom se stadsaal. Foto: Potchefstroom Herald/Wouter Pienaar

Die Potchefstroomse egpaar wie se drie Amerikaanse veghonde hul huiswerker aangeval het, verskyn weer op Dinsdag 5 Augustus in die streekhof, hangende die uitkomste van voorleggings wat aan die direkteur van openbare vervolging (DOV) gestuur is.

Die saak is Woensdag (28/5) vlugtig in dieselfde hof behandel en uitgestel omdat die regspan eers Woensdagoggend skriftelike voorleggings van die DOV ontvang het.

Die Mosterts word aangekla nadat Dipuo Kokolosi in Januarie 2022 na bewering deur drie van hul pitbulls aangeval is. Sy is in Januarie verlede jaar geopereer om haar neus kosmeties te herstel.

Dipuo Kokolosi (tweede van regs) en van haar familie ná ’n vorige hofverskyning: Lerato Kokolosi (niggie), Patricia Modise (dogter), Dipuo Kokolosi en Joseph Modise (broer). Foto: Potchefstroom Herald/Wouter Pienaar

“My kliënte is gefrustreerd oor die vertragings in terugvoer van die distrikskantoor en nasionale kantoor oor die uitkomste,” sê Malan Schutte, hul regsverteenwoordiger. “Ons hoop op die volgende hofdatum sal daar ’n beslissing van die DOV wees.

“Die saak is uitgestel sodat ons in ’n posisie kan wees om verdere voorleggings by die nasionale kantoor in te dien. Na my mening behoort die saak voorlopig teruggetrek te word, maar die staat het reeds ’n finale besluit geneem oor die voorleggings.

“Ons bevind onsself tans in ’n frustrerende posisie omdat my kliënte al lank hof toe moet reis,” het hy gesê.

’n Ouer foto van die Mosterts se Amerikaanse veghonde. Foto: Facebook

In Augustus verlede jaar het Marno en Chandré Mostert versoek dat die saak teen hulle teruggetrek word, aangesien hulle glo dat daar geen kans is op ’n skuldigbevinding nie, en dat die vertragings aan hulle skade berokken.

Die saak is om verskeie redes vertraag, onder meer weens ’n bykomende aanklag teen die egpaar nadat dit aan die lig gekom het dat die honde Kokolosi glo al voorheen gebyt het.

Kokolosi is glo in Januarie 2022 deur haar werkgewers se drie veghonde aangeval. Haar neus, lip, ore en dele van haar dye, bene en hande is afgeskeur. Sy is in Januarie verlede jaar geopereer om haar neus kosmeties te laat herstel. 

“Ek wil hê dat ons teen die volgende hofdatum uitsluitsel oor die voorleggings het voordat ons hof toe gaan, sodat ons weet waar ons staan.

“Of die NVG dit nie nodig ag om voort te gaan met vervolging nie of ons dan die saak vir verhoor moet plaas of,” het Schutte gesê.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.