On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Polisie slaan toe op onwettige mynbou, dwelmhandel in Kimberley

───   09:41 Thu, 29 May 2025

Polisie slaan toe op onwettige mynbou, dwelmhandel in Kimberley | News Article
Teikengebiede het die informele nedersettings Samaria en Greenpoint in myngebiede, sowel as boupersele ingesluit. Foto verskaf

Die polisie in die Noord-Kaap bly meedoënloos verbind tot die uitwissing van dwelmhandel en om onwettige mynboubedrywighede rondom Kimberley hok te slaan.

Beamptes van talle eenhede het van Maandag (26/5) tot Dinsdag op verskeie plekke in en om die Diamantstad toegeslaan onder leiding van lt.genl. Koliswa Otola, provinsiale polisiekommissaris, en genl.maj. Johnny Besnaar, adjunkkommissaris.

Die doel was om die ingewikkelde netwerk van onwettige mynbou af te takel deur beslag te lê op toerusting wat tydens dié bedrywighede gebruik word.

Die polisie het op verskeie plekke beslag gelê op tik, khat en mandrax met ’n geskatte straatwaarde van meer as R350 000. Foto verskaf

Ongedokumenteerde buitelanders is ook in hegtenis geneem. Diegene wat skuldig bevind word, sal gedeporteer word na hul land van herkoms, sê lt.kol. Sergio Kock, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.

Die operasies is uitgevoer deur verskeie provinsiale afdelings van die polisie, personeel van die Frances Baard-distrik, spesialiseenhede, polisiekantore in Kimberley en omliggende gebiede, sowel as beamptes van binnelandse sake, die verkeersafdeling en die Vala Umgodi-span, wat tans in die Frances Baard-streek ontplooi is.

Alle rolspelers wat by die uitvoering van die operasies betrokke was, is geloof. Foto verskaf

Die multidissiplinêre operasies is in twee fases oor twee dae uitgevoer, sê Kock. Teikengebiede het die informele nedersettings Samaria en Greenpoint in myngebiede sowel as boupersele ingesluit, terwyl verskeie moontlike dwelmhuise in Beaconsfield, Colville, Newpark, die middestad en Homelite ook deursoek is.

Tydens die operasies is 39 ongedokumenteerde mans op ’n bouperseel in De Beers en die onwettige myngebied Samaria in hegtenis geneem. Hierdie mans, ongedokumenteerde buitelanders van Mosambiek en Lesotho, is deur amptenare van binnelandse sake verwerk.

Verskeie moontlike dwelmhuise in Beaconsfield, Colville, Newpark, die middestad en Homelite is ook deursoek. Foto verskaf

Drie mans en twee vroue is in hegtenis geneem vir die besit van dwelms in Colville, Samaria en Homelite.

Die polisie het op dwelminligting gereageer en op verskeie plekke beslag gelê op tik, khat en mandrax met ’n geskatte straatwaarde van meer as R350 000.

Tydens lukrake voertuigkontrolepunte wat dwarsoor die stad uitgevoer is, is 25 verkeersboetes en J534-kennisgewings uitgereik van R15 250. Altesaam 663 mense en 284 voertuie is voorgekeer en deursoek.

Altesaam 39 ongedokumenteerde mans is op ’n bouperseel in De Beers en die onwettige myngebied Samaria in hegtenis geneem. Foto verskaf

Die aangekeerdes (tussen 18 en 46) sal binnekort in die Kimberleyse landdroshof verskyn.

Otola sê dis die tweede operasie wat toegespits was op onwettige mynbou en is ’n voortsetting van verlede week se optredes in Namakwaland.

“Sulke optredes sal voortduur,” beloof sy. “Die polisiediens sal saam met belanghebbendes en gemeenskappe aanhou om sindikate en mense aan die kaak te stel wat ’n misdadige lewe kies.

Polisie in die Noord-Kaap bly verbind tot die uitwissing van dwelmhandel. Foto verskaf

“Die polisie sal steeds die wet handhaaf en die gesag van die staat afdwing om te beklemtoon dat Suid-Afrika nie ’n toevlugsoord vir misdadigers of georganiseerde misdaad is nie.”

Sy loof alle rolspelers wat by die uitvoering van die operasies betrokke was en sê sy waardeer hul pogings om wet en orde te herstel.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.