Central SA
Bejaarde Vrystater kry borgtog ná moord op plaas─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:06 Thu, 29 May 2025

’n Bejaarde Vrystaatse boer sal na verwagting weer op 7 Augustus in die hof verskyn op aanklagte van moord.
Carl Christian Gutter (78), ’n boer van Brandfort, het Donderdag (29/5) in die plaaslike landdroshof verskyn vir die moord op Sonnyboy Segalo, ook van Brandfort.
Gutter het die slagoffer na bewering geskiet toe hy op sy plaas oortree het. Die verdediging het uitstel versoek om vertoë aan die direkteur van openbare vervolging in Bloemfontein te rig.
‘Die polisie is na die toneel ontbied ná berigte van ’n plaasaanval’
“As dit suksesvol is, sou ons natuurlik in ons doel geslaag het, maar indien nie, sal daar vertoë aan die nasionale direkteur van openbare vervolging wees,” het adv. Allen Simpson, Gutter se regsverteenwoordiger, buite die hof aan OFM Nuus gesê.
Gutter is nege jaar ná die voorval vervolg en het Woensdag (21/5) sy eerste hofverskyning gemaak, toe hy borgtog van R2 000 toegestaan is.
Die aanklag spruit uit ’n voorval op 29 Augustus 2016 op Gutter se plaas, Palmietfontein, distrik Brandfort. Die polisie is na die toneel ontbied ná berigte van ’n plaasaanval, het lt.kol. Zweli Mohobeleli, provinsiale Valke-woordvoerder, voorheen gesê.
LEES OOK: Brandfort-plaasaanvallers weer in die hof
“Daar gekom, het hulle afgekom op vier verdagtes, wat deur plaaslike boere en plaaswerkers aangehou word. Onder hulle was Segalo, wat met sy gesig na onder gekry is met ’n skietwond in sy rug.”
Twee vuurwapens is naby die toneel gevind en vir ballistiese ontleding gestuur.
Segalo het later aan sy beserings beswyk, het Mohobeleli gesê. “Hoewel (Segalo) en (sy makkers) aanvanklik van poging tot roof aangekla is, is die drie medebeskuldigdes eindelik vrygespreek.”
LEES OOK: Plaasaanval: Bejaarde Vrystaatse boer ná byna nege jaar vervolg
Niemand is aanvanklik vir Segalo se moord in hegtenis geneem nie.
Nadat ’n formele geregtelike doodsondersoek in Julie 2024 deur die Brandfortse landdroshof geopen is, het die hof se bevindinge, wat in Maart bekendgemaak is, egter gelei tot die uitreiking van ’n lasbrief vir Gutter se inhegtenisneming op aanklag van moord.