Local News
Valke ondersoek beweerde aanval op Brandfort-boer─── CHRISTAL-LIZE MULLER 09:34 Tue, 30 Aug 2016

Bloemfontein - Die Valke in die Vrystaat het die ondersoek waarin ‘n bejaarde boer van die Brandfort-distrik se vermeende aanvaller gister ná ‘n skietery op die plaas Palmietfontein dood is, oorgeneem.
Polisiewoordvoerder, Ikobeng Hlubi, sê Carl Gutter was na bewering omstreeks 07:00 in sy bakkie reg om by sy plaas uit te ry toe ‘n onbekende man aan sy ruit geklop en ‘n vuurwapen op hom gerig het.
Volgens Hlubi het Gutter by die passasierskant uitgevlug waarna daar op hom losgebrand is. Hy het teruggeskiet en een van die vyf aanvallers in die rug gewond.
Die polisie is ontbied. Hlubi sê die gewonde 31-jarige aanvaller is op pad na ‘n hospitaal in ‘n ambulans dood.
Die vier ander mans, tussen die ouderdom van 26 en 40, is in ‘n veld naby die plaas aangekeer.
Sy sê dit is normale prosedure vir die polisie om ‘n klag van moord te ondersoek. Gutter is nie in hegtenis geneem nie.
Intussen sê die Brandfort-landbouvereniging se veiligheidskoördineerder, Kootjie Serfontein, die polisie en boere van die distrik was vinnig op die toneel.
Hy sê as veiligheidskoördineerder, werk hy hard om goeie samewerking tussen die polisie en boere te bewerkstellig. Die polisie en boere se reaksie in dié voorval was goed.
Die verdagtes verskyn na verwagting môre op aanklagte van poging tot moord en poging tot gewapende roof in die plaaslike landdroshof. Hlubi sê niks is gebuit nie. Die vuurwapen wat glo deur die aanvallers gebruik is, is nog nie gevind nie.
OFM-nuus