On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades Ashmund
NEXT: 20:00 - 23:59 Saturday Nights with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Dringende optrede geëis ná oorstroming op Jan Kempdorp

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:32 Fri, 30 May 2025

Dringende optrede geëis ná oorstroming op Jan Kempdorp | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Phokwane-munisipaliteit het hom daartoe verbind om dringend aandag te gee aan die aanhoudende oorstromings op Jan Kempdorp.

Die plaaslike owerheid verseker die DA hy sal met behulp van Vaalharts Water die oorstromings van paaie en erwe dringend die hoof probeer bied. Oorstromings word veroorsaak deur die oorloop van ’n versadigde retensiedam in Jan Kempdorp, sê DA-rdl. Lean le Roux.

“Verlede week het die DA ’n formele versoek om ingryping ingedien nadat talle klagtes oor die toestand van Henry Ferreirastraat ontvang is. Die pad is deurweek, vol slaggate en tans onbegaanbaar.

“Dit hou ernstige gevaar in vir motoriste en skoolvervoer, en ontwrig daaglikse ritte vir inwoners tussen hul huis, werk, skole en die dorp,” sê Le Roux.

Dele van Nuwedorp-gebied oorstroom

“Die munisipaliteit het bevestig dat water van die retensiedam oorloop op die grondpad wat na die navorsingstasie lei, wat dele van die Nuwedorp-gebied oorstroom, insluitend sommige erwe en Silwerboomstraat.”

Volgens Le Roux vloei die water steeds deur die dorp en in die stormwaterkanaal naby die hospitaal. Tydens reënval dra stormwater van Guldenskap Nuwe Nedersetting by tot die probleem en vererger die oorstromings in Nuwedorp verder.

Sy het egter die munisipaliteit se vinnige reaksie op die krisis erken. “Ons waardeer die munisipaliteit se kommunikasie met Vaalharts Water, waarin hy hulp versoek om terugspoelwater van die behandelingswerke te herlei en stormwateroorloop te bestuur.”

Bouwerk aan dreineringsloot sal na verwagting binnekort begin

Vaalharts Water onderneem om ’n padskraper en ’n graafmasjien te verskaf om ’n sloot te grawe wat water na ’n dreineringskanaal sal herlei, wat sal help om verdere oorstromings van paaie en eiendomme in die gebied te voorkom.

Le Roux sê bouwerk aan die dreineringsloot sal na verwagting volgende week begin.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.