On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

AfriForum wil 1 Desember as dag teen plaasmoorde gedenk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:59 Tue, 10 Nov 2026

AfriForum wil 1 Desember as dag teen plaasmoorde gedenk | News Article
Die organisasie moedig die publiek aan om op 1 Desember ’n klein wit kruis op hul hemp of baadjie te dra. Foto AfriForum

AfriForum wil 1 Desember voortaan jaarliks as ’n wêrelddag van herinnering aan slagoffers van plaasmoorde en -aanvalle gedenk met die doel om aandag op die geweld teen landelike gemeenskappe te vestig.

Die dag sal gebruik word om slagoffers te herdenk, hul naasbestaandes te ondersteun en groter internasionale bewusmaking oor plaasgeweld te skep. Die datum is doelbewus gekies ter nagedagtenis aan Wilmien Potgieter (2), wat op 1 Desember 2010 saam met haar ouers, Attie en Wilna, op hul plaas in die Vrystaat vermoor is, sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor gemeenskapsveiligheid.

“Wilmien was maar net twee jaar oud. Haar lewe is wreed beëindig nog voordat dit behoorlik begin het. Hierdie dag gaan daaroor om hul name en lewens te onthou en om die werklikheid van plaasgeweld onder die aandag van Suid-Afrikaners én die internasionale gemeenskap te bring.

“Wilmien se dood, asook dié van talle ander slagoffers van plaasmoorde, mag nooit vergeet of bloot tot statistieke gereduseer word nie,” sê hy.

Volgens die organisasie word mense op plase steeds aan aanvalle blootgestel. Slagoffers word beseer, gesinne word getraumatiseer en sommige keer nooit weer na hul geliefdes terug nie. Agter elke plaasmoord is ’n mens, ’n gesin en ’n gemeenskap wat met die gevolge van die geweld moet saamleef.

Die organisasie moedig die publiek aan om op 1 Desember ’n klein wit kruis op hul hemp of baadjie te dra, of bloot ’n wit hemp aan te trek, as teken van herinnering aan en solidariteit met slagoffers en hul naasbestaandes.


AfriForum-takke landwyd sal om 12:00 ’n oomblik van stilte handhaaf. Mense in ander lande word ook aangemoedig om op dieselfde oomblik stil te gaan staan by die slagoffers of hul eie plaaslike herdenkingsgeleenthede te reël.

“Ons wil hê mense dwarsoor Suid-Afrika – en ook elders in die wêreld – moet op 1 Desember saam met ons die slagoffers herdenk. Dit gaan oor elke lewe wat tydens ’n plaasmoord verloor is, elke persoon wat ’n plaasaanval oorleef het en elke familie wat steeds met die trauma en verlies saamleef,” sê Broodryk.

“Die dra van ’n wit kruis en die oomblik van stilte is eenvoudige gebare wat ’n boodskap van herinnering en solidariteit oordra.”

AfriForum is intussen besig om internasionale rolspelers, veral in die VSA, by die inisiatief te betrek. Die organisasie wil sodoende verseker dat die herdenkingsdag ook buite Suid-Afrika aandag geniet en bewusmaking oor geweld teen landelike gemeenskappe bevorder.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.