Central SA
Psigiatriese hospitaal: Hoëprofielsaak in Kimberley uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:05 Mon, 02 Jun 2025

’n Bedrog-en-korrupsiesaak in Kimberley is uitgestel tot 16 Julie nadat een van die beskuldigdes wat na bewering siek is, nie in die hof verskyn het nie.
Motlalepule Elias Selemela, Ruth Palm, die voormalige hoofde van die departement van paaie, vervoer en openbare werke, Laurencia Crause, Louis Adriaan van Niekerk, Moyahi Winston Modisa, die voormalige direkteure van Babereki Consulting, en Edward Charles Petzer, ook een van die voormalige direkteure van Babereki Consulting het Maandag (2/5) in die Kimberleyse landdroshof op aanklagte van die beweerde oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, bedrog, korrupsie en geldwassery verskyn.
’n Negende beskuldigde het weens siekte nie verskyn nie, wat gelei het tot die uitstel van verrigtinge. Die verdagtes het reeds Woensdag (28/5) vlugtig in Kimberley verskyn en Petzer in die Kaapstadse landdroshof.
”Ons het verwag dat al die beskuldigdes vandag in die hof sou verskyn,” sê Mojalefa Senokoatsane, Noord-Kaapse NVG-streekwoordvoerder. “Gebaseer op voorleggings van hul regsverteenwoordiger, is beskuldigde nege egter redelik siek.
“Die saak is uitgestel om te bepaal of beskuldigde nege inderdaad te siek is om die hofverrigtinge by te woon.”
Senokoatsane het bygevoeg dat die verdediging van voorneme is om ’n artikel 342A-aansoek in te dien ingevolge die Strafproseswet. “Hierdie afdeling maak voorsiening vir ’n ondersoek na of daar onredelike vertragings in die verhoor was wat die regte van die beskuldigdes benadeel.”
Die verdagtes het in die Kimberleyse landdroshof op aanklagte van die beweerde oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, bedrog, korrupsie en geldwassery verskyn. Foto: Charne van der Merwe
Hul hofverskyning volg op hul inhegtenisneming deur die Valke, wat lasbriewe van J50 in Kimberley en Kaapstad uitgevoer het.
“Na bewering het Selemela in Augustus 2005 onwettig ’n konstruksiekontrak vir ’n nuwe psigiatriese hospitaal aan Vista Park/Joh Arch Investment toegeken, waarna die projek in September 2005 sou begin het,” het lt.kol. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder, vroeër aan OFM Nuus gesê.
Palm het glo ’n betaling van R36 miljoen vir die projek goedgekeur sonder om verkrygingsprotokolle na te kom.
Die voormalige direkteure van Babereki Consulting word vervolg nadat hulle na bewering R51 miljoen van die departement ontvang het. Foto: Charne van der Merwe
Thebe sê hoewel die beraming vir die projek R297 miljoen was, het die projekkoste eindelik meer as R1 miljard beloop weens swak vakmanskap, vertragings, sloping vir remediërende werk en veranderinge in kontrakteurs.
Hy sê die voormalige direkteure van Babereki Consulting word vervolg nadat hulle na bewering R51 miljoen van die departement ontvang het, ten spyte daarvan dat daar geen wettige kontrak in plek was nie.
Alle verdagtes is op borgtog vrygelaat, wat wissel tussen R2 000 en R10 000.