Central SA
Potchefstromer in Augustus verhoor ná noodlottige botsing─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:19 Tue, 03 Jun 2025

’n Man van Noordwes wat daarvan beskuldig word dat hy die dood van twee mans veroorsaak het, se verhoor is tot 4 Augustus uitgestel.
Gideon Borstlap (38), ’n Potchefstromer wat tereg staan op twee aanklagte van strafbare manslag ná ’n noodlottige motorongeluk in 2019, se regsverteenwoordiger, Michelle Erwee, het tyd gevra om verdere besonderhede en dokumentasie oor die ondersoek in te win.
Borstlap het kort ná die ongeluk, waarin Kobus Huyser (28) en Niel Grobler (19) dood is, vir die eerste keer in die hof verskyn.
Albei slagoffers is op die toneel dood
Die ongeluk het op Donderdag 15 Augustus 2019 omstreeks 19:00 op die hoek van Govan Mbeki-rylaan en Smitstraat naby die gholfbaan plaasgevind. Die twee vriende was op pad toe Borstlap se voertuig glo met hulle s’n gebots het. Albei slagoffers is op die toneel dood.
In 2020 is die saak van die rol geskrap nadat die vervolgingspan geoordeel het dat daar nie ’n onafhanklike ooggetuie was wat die saak suksesvol kon ondersteun nie. Borstlap is intussen op borgtog vrygelaat.
Volgens kol. Adele Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder, het die ondersoek nie daar doodgeloop nie. “Ons het via die plaaslike media ’n beroep op die publiek gedoen om met enige inligting vorendag te kom,” sê sy.
Twee oorledenes was soos broers
Dié oproep het in 2022 vrugte afgewerp toe ’n nuwe ooggetuie na vore gekom en ’n verklaring afgelê het. Die saak is toe weer aan die direkteur van openbare vervolging (DOV) voorgelê wat besluit het om die saak weer op die hofrol te plaas.
Joggie Grobler en Danie Huyser, naasbestaandes van die twee oorledenes, was verlede week in die hof teenwoordig. Hulle het in vorige onderhoude vertel dat hulle steeds sukkel om sin te maak van die verlies en hoop op antwoorde en berusting.
“Elke dag is dit ’n leë kamer, ’n bord kos minder, en stilte waar daar vroeër lewe was,” het Grobler aan Netwerk24 gesê. Hy en Huyser het gesê hulle kinders was soos broers, en spesiale geleenthede soos Kersfees en verjaarsdae bly moeilik.
Kobus Huyser en Niel Grobler is byna ses jaar terug oorlede. Foto: Facebook
Die Grobler- en Huyser-familie het AfriForum in 2022 genader omdat hulle gevoel het dat daar geen vordering in die saak was nie. Andrew Leask, hoofondersoeker van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, sê hulle het by die NVG navraag gedoen en aangebied om ’n deskundige in te bring om die ongelukstoneel te rekonstrueer.
Die polisie het egter self kundiges aangestel en die toneel is weer volledig nagegaan. Die verslag van hierdie rekonstruksie is aan die DOV gestuur, wat toe besluit het om met vervolging voort te gaan.
Volgens Erwee het die verdediging voorheen reeds versoek om sekere inligting oor die ondersoek en die latere rekonstruksie van die ongelukstoneel, maar nadat die saak in 2020 van die rol verwyder is, is daardie vrae nie beantwoord nie.
Belangrike stap in hul soeke na geregtigheid
Nou het sy skriftelik aansoek gedoen vir die dokumentasie, en die hof het die uitstel toegestaan om die aansoek af te handel en die Staat kans te gee om daarop te reageer.
Die nuwe hofdatum, 4 Augustus, sal waarskynlik gebruik word om die hof in te lig oor die vordering met hierdie versoeke en om die pad vorentoe te bepaal. Borstlap is intussen op borgtog.
Vir die naasbestaandes van Huyser en Grobler is die hervatting van die saak ’n belangrike stap in hul soeke na geregtigheid. “Ons wil net weet wat gebeur het,” het Huyser aan Netwerk24 gesê. “En dat iemand verantwoording doen.”