Central SA
Bloemfonteinse prokureur onthou vir intelligensie, humor─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:10 Wed, 04 Jun 2025

’n Prokureur en lektor van die Vrystaat word Vrydag (6/6) ter ruste gelê.
Charles Dell is verlede Vrydag omstreeks 05:30 oorlede nadat hy ’n kort rukkie siek was.
Dell was die direkteur van die prokureursfirma Lovius Block in Bloemfontein waar hy in arbeidsreg gespesialiseer het. Hy was ook dosent aan die UV se Sentrum vir Arbeidsreg.
Charles en sy kollegas. Foto verskaf
“Dell het sy B.Proc.-graad in 1989 aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf en sy loopbaan as ’n artikelklerk by Lovius Block in 1987 begin,” vertel Duncan Murray, een van Dell se kollegas.
In 1995 het hy ’n vennoot van die firma geword, waarna hy in 1996 ook as ’n deeltydse kommissaris by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie begin dien het en tot sy afsterwe as ’n senior kommissaris daaraan verbonde was.
Murray sê Dell het in 1998 ’n meestersgraad in Filosofie in Arbeid en Arbeidsverhoudinge aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit verwerf. Gedurende sy leeftyd het hy ook gedien as die voormalige voorsitter van die skoolbeheerliggaam van Eunice en was hy die lugvoorsitter van Tafelronde Nr. 158.
Charles en sy vrou, Jana. Foto verskaf
Dell se dogter, Bianca Dell, sê om totsiens te sê aan ’n ouer is nooit maklik nie – maar om hulle in pyn te sien, is erger. Bianca vertel sy het op 7 Mei die laaste keer ’n boodskap van haar pa gekry.
“Jou laaste woorde aan my was: ‘Dankie.’ Maar, Pa, dankie. Vir byna 30 jaar van liefde, lag en herinneringe. Vir laatnag-geselsies oor Ponchos. Om vir my te lees, my speletjies te leer en jou sin vir avontuur te deel. Vir braaivleis, garnale, tuinoomblikke en om by my troue te wees. Vir die eerste bier, en die laaste.
“Dankie … vir jou intelligensie, humor en liefde. Om my man as jou eie te aanvaar en altyd daar te wees.”
Charles Dell is ná ’n kort siekbed oorlede. Foto verskaf
Sy sê haar pa het haar hele lewe na haar omgesien en sy weet nou, as ’n beskermengel, sal hy steeds elke dag. “Ek is lief vir jou, my maat. My pa. Vir altyd.”
Die Sentrum vir Arbeidsreg het ook diepe hartseer uitgespreek oor sy afsterwe en waardering vir sy bydraes: “Dell was nie net ’n dosent, kollega en vriend nie. Hy was deel van die hart en siel van die Sentrum vir Arbeidsreg.
Charles en sy dogter, Bianca. Foto Facebook/Bianca Dell
“Sedert die sentrum se ontstaan was hy ’n pilaar van krag, wysheid en toewyding. Die sentrum het ’n deel van sy siel verloor – ’n onafskeidbare deel van wie ons is.”
Naasbestaandes, kollegas en vriende neem Vrydag om 11:00 by Tuscan Rose van hom afskeid.