On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Brandstigting by Noord-Kaapse kollege NSFAS se skuld – VF Plus

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:01 Thu, 05 Jun 2025

Brandstigting by Noord-Kaapse kollege NSFAS se skuld – VF Plus | News Article
Die kollege brand. Skermgreep uit video

NSFAS moet die skuld kry vir die brandstigting deur studente by ’n Noord-Kaapse tegniese kollege, ’n voorval wat voortspruit uit sistemiese mislukkings.

Die verwoesting wat veroorsaak is, is nog ’n voorbeeld van hoe die ANC se transformasiebeleid die teenoorgestelde van sy beoogde doelwitte bereik, sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor onderwys.

Ongeveer 300 betogers het Woensdag (4/6) die Northern Cape Urban TVET-kollege in Kimberley aan die brand gesteek en antwoorde op talle griewe geëis, insluitend onopgeloste kwessies met NSFAS-betalings.

“Die administratiewe kantoorgebou van die kollege is deur brandstigting vernietig. Terwyl sulke optrede nie geregverdig kan word nie, moet die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema ’n deel van die skuld dra.”

Die gefrustreerde studente betoog al weke lank oor vertraagde betalings van NSFAS, sê Boshoff. Die skema, wat nou die onderwys van meer as ’n miljoen studente befonds, het ’n sentrale rol in die naskoolse onderwyslandskap gespeel sedert die Fees Must Fall-veldtog.

OFM Nuus het voorheen berig dat studente op 12 Mei betoog het teen voortdurende vertragings in die uitbetaling van NSFAS-toelaes en agterstallige betalings aan verhuurders.

“Oudpres. Jacob Zuma het einde 2017 gratis hoër onderwys belowe in reaksie op die Fees Must Fall-beweging. Op daardie stadium was NSFAS ’n taamlik klein beursskema, wat vinnig omskep is in ’n massiewe toelae-uitbetalingstelsel.”

NSFAS is sedertdien verantwoordelik vir die betaling van klasgeld, verblyf en lewenskoste vir ’n vinnig toenemende getal studente, sê Boshoff. Die stelsel het egter van die begin af gesukkel om die omvang van sy nuwe verantwoordelikhede te hanteer.

“Die mees kritieke deel van die huidige krisis is NSFAS se voortdurende versuim om maandelikse sakgeld betyds aan studente te versprei, betalings wat nou dien as ’n noodsaaklike deel van Suid-Afrika se breër sosiale veiligheidsnet.”

Groot handelsbanke is ten volle daartoe in staat is om sulke finansiële prosesse doeltreffend te bestuur, meen Boshoff. NSFAS het egter verkies om aan te hou saamwerk met ontluikende maatskappye in die naam van transformasie – ten spyte van die operasionele tekortkominge van hierdie benadering.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.