Central SA
Ondersoek ná Noord-Kaapse meisie glo ontvoer is─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:30 Thu, 05 Jun 2025

Die Noord-Kaapse polisie ondersoek ’n saak van motorkaping, ontvoering en roof nadat ’n vrou blykbaar ontvoer is.
Zelne du Plessis (20) van Postmasburg is ure later ongedeerd gevind nadat sy na bewering Woensdag (4/6) ontvoer is, sê lt.kol. Sergio Kock, provinsiale polisiewoordvoerder. “Twee mans met klapmusse het haar omstreeks 16:30 by ’n vierrigtingstop op dié dorp gekaap. Die mans het haar glo beveel om dorpuit te ry.”
Du Plessis se ouers het onraad vermoed. ’n Soektog is dadelik van stapel gestuur nadat hulle haar as vermis aangemeld het.
Sonder brandstof gaan staan
“Du Plessis is omstreeks 19:00 op die Witsand-grondpad tussen Postmasburg en Griekwastad in haar motor gevind,” sê Kock.
Volgens die voorlopige ondersoek het die motor sonder brandstof gaan staan en die twee verdagtes het te voet met haar selfoon gevlug.
Geen wagtydperk
Die Noord-Kaapse polisie wil die publiek herinner daaraan dat geen wagtydperk geld om vermiste mense aan te meld nie. Maak so wanneer iemand vermis word:
- Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik.
- Gee ’n volledige beskrywing van die vermiste mens se laaste verblyfplek, klere wat hulle gedra het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help.
- Voltooi en onderteken ’n SAPD 55(A)-vorm. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en vrywaar die polisie om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei.
- Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar word.
- As ’n vermiste persoon gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. ’n SAPD 92-vorm moet voltooi word om die Buro vir vermiste persone in kennis te stel sodat die vermiste persoon se verslag uit die sirkulasiestelsel gehaal kan word.
OFM Nuus cg