Central SA
NWU ondersoek ‘Kill the Boer’ buite koshuis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:36 Fri, 06 Jun 2025

Die Noordwes-Universiteit het ’n ondersoek van stapel gestuur na ’n voorval waarin die omstrede dreunsang ‘Kill the Boer’ na bewering voor ’n koshuis op sy Potchefstroomkampus gesing is.
Die voorval het na bewering laat Donderdagaand (5/6) plaasgevind. ’n Video van die gesang is deur AfriForum Jeug op sosiale media versprei, waarin iemand duidelik gehoor kan word wat ‘Kill the Boer’ sing.
“Die NWU beskou enige skending of oortreding van menseregte, beleide en reëls in ’n ernstige lig en veroordeel ten sterkste enige aksies of gedrag wat poog om sy waardes te ondermyn,” sê Louis Jacobs, NWU-woordvoerder. “Ons verseker ons belanghebbendes dat streng opgetree sal word in ooreenstemming met die toepaslike reëls en regulasies teen enigiemand wat skuldig bevind word.”
AfriForum Jeug het ’n petisie op sy webtuiste begin om druk op die universiteit toe te pas om gepaste stappe te doen. Dit is die tweede keer in die laaste maande dat die universiteit die publiek se aandag getrek het vir kontroversiële voorvalle.
In April vanjaar het OFM Nuus berig dat die universiteit eise vir ’n formele ondersoek in die gesig gestaar het na aanleiding van ’n beweerde ritueel wat deur ’n sangoma uitgevoer is, wat na bewering gepaard gegaan het met bloedstollende gille.
Die voorval het na bewering op 13 April omstreeks 22:10 in ’n vrouekoshuis op die Potchefstroomkampus plaasgevind, het Yvonne Gerber van AfriForum Jeug, aan OFM Nuus gesê. Die ritueel is na bewering op ’n mede-inwoner in ’n koshuiskamer uitgevoer en het glo gebede tot voorvadergeeste en ander tradisionele genesingspraktyke behels wat algemeen met sangomas geassosieer word.
Kulturele en spirituele diversiteit
“Paniekbevange inwoners het AfriForum Jeug onmiddellik na die gebeurtenis gekontak,” het Gerber gesê. “Klank- en video-opnames wat deur inwoners van die spesifieke koshuis aan AfriForum Jeug gestuur is, vang die gille duidelik vas, vermoedelik van die student wat deur die sangoma behandel word.”
In reaksie hierop het prof. Marlene Verhoef, die NWU se registrateur, verklaar dat na ’n formele ondersoek geen bewyse gevind is dat ’n sangoma in enige universiteitskoshuis teenwoordig was nie.
Die universiteit het sedertdien sy breër verbintenis tot die respek vir godsdienstige en kulturele diversiteit op kampus herhaal.
Inklusiewe beleid
Verhoef het beklemtoon dat die NWU se inklusiewe beleid alle aspekte van studente-identiteit dek, insluitend kulturele en spirituele praktyke, solank dit ooreenstem met universiteitsbeleide en nasionale wette.
’n Raamwerk word tans ontwikkel om die gepaste gebruik van kampusgeriewe vir godsdienstige en spirituele aktiwiteite te lei. “Die universiteit erken die belangrikheid van kulturele en spirituele uitdrukking en streef daarna om ’n omgewing te skep waar alle studente met respek en gelykheid behandel word,” het Verhoef gesê.
OFM Nuus mvh