Central SA
Drie glo geïdentifiseer wat ‘Kill the Boer’ by NWU sing – AfriForum─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:40 Sat, 07 Jun 2025

’n Dringende beroep is op ’n Noordwes-universiteit gedoen om die sing van die “Kill theBoer”-dreunsang op NWU-kampusse te veroordeel en te verbied.
AfriForum Jeug het Vrydag (6/6) ’n dringende beroep op prof. Bismark Tyobeka, die Noordwes-Universiteit (NWU) se visekanselier, gedoen nadat die omstrede liedjie glo Donderdagaand buite koshuise op die NWU se Potchefstroom-kampus gesing is, sê Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling van AfriForum Jeug.
Videomateriaal van die voorval is met AfriForum Jeug gedeel.
Sy sê AfriForum het intussen ook betroubaar verneem dat die NWU reeds drie studente in verband met die voorval geïdentifiseer het en dat ’n ondersoek na verwagting gaan volg. AfriForum Jeug verwelkom dié stap.
LEES OOK: NWU ondersoek ‘Kill the Boer’ buite koshuis
“Die jeugorganisasie dring egter daarop aan dat die universiteit dit duidelik moet stel dat tugstappe gedoen sal word teen enige studente wat hulself in die vervolg skuldig maak aan die sing van dié dreunsang.”
Die dreunsang dra, volgens AfriForum Jeug, swaar aan ’n geskiedenis van geweld en rassepolarisasie en het geen plek in ’n omgewing wat daarop aanspraak maak om inklusief, veilig en akademies vry te wees nie.
Hof bevind “Kill the Boer”-dreunsang is nie haatspraak
“Die hof se wettiging van die ‘Kill the Boer’-dreunsang en die beslissing dat dit nie haatspraak is nie, beteken geensins dat die universiteit mag wegskram van verantwoordelike en morele optrede teen die sing daarvan nie,” sê Gerber.
“Net soos die dra van ’n vuurwapen wettig is in Suid-Afrika, maar nie op kampus toegelaat word nie, kan die universiteit ook in dié verband duidelike grense stel en sê dat hierdie lied nie op kampus toegelaat of geduld sal word nie.”
AfriForum het vroeër reeds daarop aangedring dat president Cyril Ramaphosa die sing van die “Kill the Boer”-dreunsang moet veroordeel en benadruk dat sy weiering om dit te doen, volgens die regering se eie maatstaf, neerkom op ’n oortreding van die Verenigde Nasies (VN) se Volksmoordkonvensie. “Wat geld vir die president, geld ook vir die NWU se visekanselier,” sê Gerber.
OFM Nuus cg