Central SA
Vier Noord-Kapenaars in aanhouding wat glo ietermago wou verkoop─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:36 Sun, 08 Jun 2025

Vier mans, wat glo ’n bedreigde spesie wou verkoop, sal na verwagting Dinsdag (11/6) in die hof om borgtog aansoek doen.
Die viertal, Refilwe Ejang (36), Bafenyi Baganeng (25), Rapelang Namusi (32) en Pogisho Motlhabane, het Vrydag (6/6) in die Kuruman-hof verskyn nadat hulle glo ’n ietermago wou verkoop, sê ao. Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke.
Die dier staan ook bekend as die pangolien.
“Die polisie het inligting ontvang oor ’n verdagte wat ’n ietermago wil verkoop. Lede van die Valke in Kathu, die hoofwegpatrollie, Kuruman se openbareordepolisie-eenheid en Kuruman se plaaslike kriminele rekordsentrum het gevolglik saamgespan en ’n plan beraam om die booswigte vas te trek.”
Volgens Mnisi het ’n lid van die polisie hom toe as ’n koper voorgedoen en met die verdagtes afgespreek om hulle by die Oasis Casino in Kuruman te ontmoet.
“Die vier mans het Donderdag in ’n wit VW Golf opgedaag en die polisieman ontmoet. Die verdagtes het ’n ietermago-wyfie te voorskyn gebring en daar is op ’n bedrag van R250 000 ooreengekom. Onmiddellik nadat die transaksie beklink is, is die verdagtes in hegtenis geneem en in Kuruman se polisieselle aangehou.”
Vier mans is vas nadat hulle glo ’n ietermago-wyfie wou verkoop. Foto: WWF
Volgens World Wild Life (WWF) is ietermago’s skaars omdat hulle die mees onwettig verhandelde soogdiere ter wêreld is, wat byna tot uitsterwing gedryf word deur die hoë aanvraag na hul skubbe. Dit word in tradisionele medisyne gebruik en hul vleis word in sommige kulture as ’n lekkerny beskou.
Mense verkoop ietermago’s hoofsaaklik op swartmarkte regoor Asië en Afrika, ten spyte van streng beskermingsmaatreëls, as gevolg van die hoë pryse wat daarvoor behaal word. Bewaringsbewustes en regerings werk daaraan om hierdie onwettige handel te stop, aangesien dit die oorlewing van die spesie bedreig.
Die ietermago word in sommige lande vir medikasie gebruik. Foto: WWF
China het onlangs Guilingji, ’n tradisionele medisyne wat pangolienbestanddele bevat, uit sy nuutste farmakopee verwyder.
Die Chinese Farmakopee is die amptelike standaard vir kliniese voorskrifte en die verwydering van Guilingji weerspieël die land se poging om weg te beweeg van die gebruik van diere in tradisionele medisyne, berig die WWF.