On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Winterstorm beweeg in oor Mzansi – owerhede op hoë gereedheidsvlak

───   12:47 Sun, 08 Jun 2025

Winterstorm beweeg in oor Mzansi – owerhede op hoë gereedheidsvlak | News Article
Verskeie bergtoppe in die Wes-Kaap is met sneeu bedek. Foto: Cape Town Etc/Aiden Daries

’n Kragtige winterstorm het Sondagoggend (8/6) oor Suid-Afrika inbeweeg met wydverspreide sneeu wat reeds in die Wes-Kaap aangemeld is. Dit bevestig voorspellings van een van die grootste sneeuvalgebeurtenisse in jare.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ’n Vlak 6-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende sneeu in hoogliggende gebiede van die suidelike en oostelike Vrystaat, noordelike Oos-Kaap, asook die westelike en suidelike dele van KwaZulu-Natal. 

Volgens voorspellings sal die sneeuval tot minstens Woensdag voortduur, hoewel meteoroloë waarsku dat die sogenaamde afsnydruklaagstelsels baie onvoorspelbaar is.


“Die stelsel sal verder versterk soos die ‘afsnydruklaag’ ontwikkel, wat die temperature sal laat daal en die ideale toestande sal skep vir swaar sneeu oor bergreekse, insluitend die Drakensberge, dié in die suide van Lesotho en dele van KZN waar die meeste sneeu verwag word,” sê Vox Weather se Michelle du Plessis.

Sneeu bevestig in verskeie streke

Sneeu is reeds bevestig in die Wes-Kaap met verskeie foto’s op sosiale media, waar hoogliggende gebiede met ’n wit kombers bedek is terwyl die temperature skerp daal. 


Volgens snowreport.co.za word groot ontwrigting verwag, insluitend ysige paaie, bergpas-sluitings, en geïsoleerde plattelandse gemeenskappe. 

Meer as 50 cm sneeu word ook voorspel vir dele van die Oos-Kaap en Lesotho teen Maandag, veral rondom Barkly-Oos en Afri Ski.

Waar word nóg sneeu verwag?

Wes-Kaap:

  • Matroosberg

  • Cederberg

  • Swartberg

Noord-Kaap:

  • Nuweveld- & Roggeveldberge (insluitend Sutherland)

  • Groot Karoo

  • Postmasburg, Kuruman

Vrystaat & Oos-Kaap:

  • Barkly-Oos

  • Aliwal-Noord

  • Molteno

  • Fraserburg

  • Reitz

  • Bethlehem

  • Warden

  • Heilbron

  • Reddersburg

  • Colesberg

Lesotho:

  • Afri Ski-gebied verwag meer as 50 cm sneeu

In KwaZulu-Natal is owerhede op hoë gereedheidsvlak weens die verwagte slegte weer tydens Sondag se Comrades-marathon. Sterk wind, reën en koue temperature kan ’n risiko inhou vir deelnemers en toeskouers. Padtoestande kan gevaarlik wees, veral op bergpasse en grondpaaie.

Intussen het byna 400 fietsryers vanoggend die Crater Cruise Gravel-wedren by Koedoeslaagte in die Vrystaat begin. Sterk wind het vroegoggend al deur die gebied gewaai, wat dié skilderagtige maar veeleisende wedren selfs meer uitdagend maak.

Rampbestuur op bystand

Rampbestuurspanne is landwyd op bystand, gereed om vinnig op enige sneeuverwante voorvalle te reageer. Owerhede maan inwoners om gereed te maak vir moontlike ryp, sterk wind en padsluitings.

Veiligheidswenke sluit in om reis te vermy indien moontlik; noodvoorrade soos kos, water en medikasie byderhand te hou; om op hoogte van weervoorspellings via SAWD en plaaslike kanale te bly; en om voorbereidings te tref om stormskade aan eiendom te vermy.

Inwoners in geraakte gebiede word aangeraai om waaksaam te bly en alle amptelike waarskuwings en veiligheidsriglyne te volg.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.