Central SA
Jeugdag só gevier op Konsentrasiekampdag in Vaaldriehoek─── 06:00 Fri, 13 Jun 2025

“Ons gaan op 16 Junie herdenk dat ’n hele generasie mense in die Anglo-Boereoorlog uitgewis is, maar dat die Afrikaners nie bly lê het nie.”
“Hulle het vorentoe gebeur om te word wat hulle vandag is omdat hulle mense is wat voortbou op die verlede vir ’n beter toekoms,” vertel Kobie Ströh oor die viering van Konsentrasiekampdag.
Jeugdag in Suid-Afrika op 16 Junie is landwyd ’n herdenkingsdag aan mense wat tydens die 1976-opstand in Soweto gesterf het in betogings teen gedwonge Afrikaanse onderrig op skool. In die Vaaldriehoek en landwyd word dié dag ook deur kultuurgroepe gevier om die Afrikanervolk se veelbewoë ontberings te herdenk.
Die Vereeniging-vryheidsmonument-Voortrekkerkommando en Vaaldriehoek Volkspelers is jaarliks met hul optrede deel van die program by die Konsentrasiekerkhof in Vereeniging. Foto verskaf/Susan Maré
OFM Nuus het met Ströh en haar man, Gys, van Vanderbijlpark gepraat wat die afgelope tien jaar by die Konsentrasiekampdag en kultuurbevordering betrokke is.
Konsentrasiekampdag word vanjaar weer gevier op die terrein van die Konsentrasiekamp-begraafplaas in Vereeniging. Verskeie rolspelers is betrek soos die Vaaldriehoek-kultuurnetwerk, die Vaaldriehoek Volkspelers, die Vryheidsmonument Voortrekkerkommando, die Chalk Board Champs op Parys – ’n skool vir kinders met spesiale onderwysbehoeftes wat die vierde jaar deelneem – en talle besoekers.
Op die program is ’n kort kerkdiens, ’n vlagseremonie deur Die Voortrekkers, kort vertellings oor die Anglo-Boereoorlog, die verskroeideaardebeleid en die Vrede van Vereeniging-ooreenkoms einde Mei 1902, ’n sangkunstenaar, samesang en heeldag kuier en ontspan.
Daar sal op elke graf en kruis kranse of blomme gelê word. Foto verskaf/Susan Maré
’n Belangrike deel van die program is die kranslegging by die monument en grafte. ’n Gedenkplaat is opgerig met name van 156 kinders (108 onder 15 en 48 bo 15) wat gesterf het.
Daar sal op elke graf en kruis in die begraafplaas kranse of blomme gelê word.
Burgerkamp langs die konsentrasiekamp
Die konsentrasiekamp is in 1900 begin en was in twee kampe ingedeel. Die Burgerkamp het uit ongeveer 25 gesinne (sowat 150 mense) bestaan.
Dit was vrywillige vlugtelinge wat aan die Engelse oorgegee het en bekend was as boereverraaiers (joiners).
Kultuurleiers van die Vaaldriehoek, Kobie en Gys Ströh. Foto verskaf/Susan Maré
Die meeste mans was deel van die gewapende Burgher Korps en hulle doel was hoofsaaklik om die verskroeideaardebeleid toe te pas. Die inwoners het meestal in hul eie Nagmaalwaens en tente gewoon.
Tentekamp vir vroue, kinders en bejaardes
Hierdie kamp was vir gevangenes. Hulle is ingeperk agter doringdraad met twee ingange, een aan die steenkoolmyn se kant en die ander stroomaf langs die Vaalrivier aan die onderkant van die Burgerkamp.
Elke jaar op 16 Junie word kranse en blomme gelê by die monument in die Konsentrasiekerkhof in Vereeniging om mense te gedenk wat in gevangeneskap oorlede is. Foto verskaf/Susan Maré
Die lewe was uitdagend weens verhongering, verwaarlosing, trauma, ontbering, siektes en min besittings. Omdat hulle in tente gewoon het moes hulle uitsterste temperature weerstaan en was veral weerlig ’n groot vrees wat tente aan die brand kon slaan.
Ene dr. Turner het tydens ’n besoek 44 gevalle uit 664 mense met ingewandskoors gediagnoseer omdat die rivierwater wat hulle moes drink besoedel was.
Na die Vrede van Vereeniging
Nadat die vredesluiting in die Vereeniging-konsentrasiekamp aangekondig is, was die blydskap groot.
Einde Julie 1902: Meer as die helfte van die inwoners kon terugkeer na hul afgebrande plase om met die heropbou te begin.
Oktober 1902: Meer as 200 inwoners het nog nie ’n heenkome gehad nie. Hulle was meestal weduwees, wese en bywoners wat sonder heenkome gestrand was.
In November 1902: Die Vereeniging-konsentrasiekamp word finaal gesluit. Nywerhede is op die terrein opgerig wat die laaste oorblyfsels uitgewis het.
“Kom ons vat op 16 Junie inspirasie uit die verlede en bou daarop.” Volgens Ströh is baie mense in Suid-Afrika negatief oor landsomstandighede en daar is sekerlik redes om so te mag voel.
“Ons wil Maandag egter ook onthou daar was al baie slegter tye in ons geskiedenis. Ons moet ons hakke in die grond inslaan en steeds vorentoe beur en bou soos wat ons voorouers gedoen het.
“Dit is meer as ooit nodig. Ons moet veral die knieë buig want ons heil is net van Bo. Ons is met ’n doel in Suid-Afrika en moet uit die verlede neem wat goed is. Ons is nie mense wat bly lê nie.
’n Groep wat deel was van ‘n vorige Konsentrasiekampdag in Vereeniging. Foto verskaf/Susan Maré
“Baie dankie aan Jan-Danie Malan, die FAK se organiseerder van die sentrale streek in Suid-Afrika se kultuurnetwerke vir sy samewerking en almal betrokke wat die 2025-herdenking ondersteun. Ons nooi almal uit om die dag saam met ons deur te bring.”
Almal in die Vaaldriehoekse omgewing word na die geleentheid genooi. Die program begin om 09:00. Dit sal ’n herdenking, sowel as viering wees met sprekers, volkspelers, samesang, ’n sangkunstenaar en ’n dag lange kuier.
Rig navrae aan Kobie by 083 934 8017, Gys by 083 755 4444 of Germaine by 072 404 3441.