On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight OFM
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse paaie se herstelwerk sal byna R50 miljard beloop

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:16 Sat, 14 Jun 2025

Vrystaatse paaie se herstelwerk sal byna R50 miljard beloop | News Article
Vrystaatse paaie is in ’n haglike toestand. Foto: GroundUp

In ’n voorlegging aan die infrastruktuur-portefeuljekomitee het die Vrystaatse departement van paaie en vervoer erken dat R30 miljard nodig is vir teerpaaie en R15 miljard vir grondpaaie.

“Dit is gelykstaande aan die hele begroting van die Vrystaatse regering vir die nuwe finansiële jaar,” sê Armand Cloete, VF Plus-wetgewerlid.

Die VF Plus het in April 2023 bekendgemaak dat die provinsie in daardie stadium R28 miljard sou moes betaal om teerpaaie in die provinsie te herstel.

Die grootste deel van die provinsiale begroting word al jare lank aan maatskaplike departemente soos gesondheid en onderwys toegeken terwyl padinfrastruktuur te min kry.

Cloete sê die provinsie het wel 18 paaie aan Sanral oorhandig vir herstelwerk.

Aankoop van nuwe voertuie in Vrystaat is klap in die gesig | News Article

Armand Cloete. Foto: X

Die departement se verslag toon prosesse word gevolg om nasionale rampbestuurfondse vir oorstroomde paaie in die provinsie te verkry.

Die VF Plus het in April die departement van samewerkende regering en tradisionele sake versoek om grondpaaie in die provinsie as ’n ramp te verklaar sodat die herstelwerk vinniger gedoen kan word. Dit blyk egter dat die politieke wil ontbreek.

Cloete sê die toestand van Vrystaatse paaie sal nooit verbeter as die ANC in beheer is met sy mislukte beleide van swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie nie.

“Die talle gestaakte en gefaalde padprojekte in die Vrystaat is ’n duidelike aanduiding dat kontrakteurs voortaan op meriete aangestel moet word ongeag velkleur.”

Werner Pretorius. Foto Facebook

OFM Nuus het voorheen berig die Vrystaat se padbegroting van R2,089 miljard vir 2025/26 sal streng toesig vereis.

Werner Pretorius, DA-wetgewerlid, waarsku teen wanbestuur nadat R350 miljoen onreëlmatig bestee is en R104 miljoen nie bestee is in die 2023/24-boekjaar nie. Hy sê dit kan ’n tekort van R837 miljoen beteken en daarom dring hy aan op beter beplanning, bekwame kontrakteurs en gereelde monitering.

Hy is ook bekommerd oor vragmotors wat oorlaai word en paaie beskadig, ’n tekort aan toerusting en swak instandhouding van geboue. Daar is 30 padprojekte waarvan net vyf voltooi is. Pretorius sê sigbare verkeersbeamptes is nodig om padveiligheid te verbeter.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.