On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight OFM
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Polisie in Kuruman benodig hulp ná skietvoorval

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:43 Sun, 15 Jun 2025

Polisie in Kuruman benodig hulp ná skietvoorval | News Article
Foto ter illustrasie, iStock

Die Noord-Kaapse polisie in Kuruman doen ’n beroep op die publiek vir enige inligting wat kan help met die ondersoek na ’n noodlottige skietvoorval.

Die skietery het Saterdag (14/6) omstreeks 04:30 tussen Ganap en Laxey Village in die Tsineng-gebied naby Kuruman plaasgevind. Die ses verdagtes het na bewering probeer om by ’n snoepwinkel in te breek, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder.

Gemeenskapslede het die groep gekonfronteer en die verdagtes het gevlug. Volgens Ehlers het een van die verdagtes ’n voertuig gestop en die bestuurder (38) en die passasier (32) geskiet.

“Die passasier is op die toneel dood en die bestuurder is later in die hospitaal dood. Daar word vermoed die verdagte kon nie die voertuig aanskakel nie en het toe te voet gevlug.”

‘Drie verdagtes is in hegtenis geneem’

Ná die voorval is ’n 72-uur aktiveringsplan in werking gestel en alle nodige hulpbronne en gespesialiseerde eenhede is ontplooi.

Sy sê omstreeks 23:20 het hul inligting hulle gelei na ’n woning in Mothibistad. In dié klopjag is drie verdagtes van 27 tot 39 jaar in hegtenis geneem. 

Lt. genl Koliswa Otola, Noord-Kaapse provinsiale kommissaris, het die vinnige reaksie van die betrokke beamptes en die suksesvolle aanhouding van die verdagtes geprys.

Enigeen met meer inligting kan kapt. Mothibedi Setlhabi by 082 416 3338 of die Stop Misdaadnommer 08600 10111 bel. Alle inligting sal as vertroulik beskou word. 

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.