On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Twee vas ná moord op Noordwes-egpaar

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:00 Wed, 18 Jun 2025

Twee vas ná moord op Noordwes-egpaar | News Article
George en Wilma Koster. Foto: Pretoria Flying News

Twee mans, wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op ’n Noordwes-egpaar, sal na verwagting Donderdag (19/6) in die hof verskyn.

George (69) en Wilma (66) Koster is Saterdag (14/6) doodgeskiet nadat hulle hul voertuig langs ’n wit Kia Rio by die Platinum Square-winkelsentrum in Rustenburg parkeer het.

’n Onderonsie het na bewering tussen die egpaar en die insittendes van die Kia ontstaan, waarna skote afgevuur is. “Die polisie het Dinsdagaand op die mans in Boitekong en Rustenburg toegeslaan en die wit Kia Rio, en wat vermoedelik die moordwapen is, gekonfiskeer,” sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.


Die verdagtes (29 en 41) sal na verwagting in die Rustenburgse landdroshof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van moord.

Dis onbekend of die polisie steeds na ’n derde beweerde oortreder soek. Luidens berigte was daar drie mense in die Kia tydens die voorval.

OFM Nuus het voorheen berig dat voorlopige ondersoeke daarop dui dat een van die verdagtes na bewering op George losgebrand het. Toe Wilma probeer ingryp, is sy ook noodlottig geskiet. 

Die Kosters se voertuig op die toneel. Foto: SAPD

Paramedici het die paartjie op die toneel dood verklaar. Die voertuig, wat nie nommerplate gehad het nie, het onmiddellik ná die skietery van die toneel gevlug.

Die paartjie word Saterdag (22/6) om 14:00 vanuit die Nuwe Apostoliese Kerk in Rustenburg begrawe.

Myburgh sê die polisie soek nog na 'n derde verdagte.

Enigiemand wat met die ondersoek kan help, kan lt.kol. Mainganyo Nathaniël Phatsoane by 082 373 9571 of lt.kol. Patrick Murunwa by 082 772 599 bel.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.