On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride James
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse dorp kry eindelik laer eiendomsbelasting

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:32 Thu, 19 Jun 2025

Noord-Kaapse dorp kry eindelik laer eiendomsbelasting | News Article
’n Dekade lange stryd teen buitensporige eiendomsbelasting is gewen. Foto: DA

Eiendomseienaars het ’n tien jaar lange stryd teen hoë eiendomsbelasting in die Noord-Kaap gewen toe die koersfaktor van 0,028 tot 0,012 verlaag is, wat maandelikse koste aansienlik afbring.

Die verandering, ondersteun deur die DA en plaaslike leiers, bring broodnodige finansiële verligting vir die Siyathemba-inwoners en besighede, sê DA-rdl. Wiida Pelster. “Kommersiële en residensiële eiendomseienaars kan ’n sug van verligting slaak aangesien die Siyathemba-gemeenskap, wat deur die DA ondersteun is, ’n dekade lange stryd teen buitensporige eiendomsbelasting gewen het.”

Sy sê die veldtog het in 2014 begin, nadat dit aan die lig gekom het dat Siyathemba, wat die vorige munisipale gebiede van Prieska, Marydale en Niekerkshoop inkorporeer, se eiendomsbelasting ongeveer drie keer meer was as die eiendomsbelasting wat gehef word op soortgelyke dorpe met min of meer ewe veel inwoners.

Hersiene tariewe twee weke gelede goedgekeur

“Die raad het die hersiene tariewe twee weke gelede goedgekeur. Die tarieffaktor is afwaarts aangepas van 0,028 na 0,012. Dit beteken byvoorbeeld vir ’n huis ter waarde van R1 miljoen se eiendomsbelasting van R2400 per maand na R1000 verminder.”

Volgens Pelster stem alle betrokke partye saam dat tariefverlagings weens die moeilike ekonomiese tye nodig was. Geld wat op eiendomsbelasting bespaar word, sal ook ’n groot bydrae lewer tot finansiële verligting aan huishoudings en ondernemings wat onder stygende lewenskoste gebuk gaan.

DA loof belanghebbendes in die gemeenskap

“Die DA loof belanghebbendes in die gemeenskap, Johan Botes van die Siyathemba-sakekamer en Johan Henning, voorsitter van AfriForum op Prieska, vir die leiding wat hulle geneem het in die stryd vir billike tariewe vir Siyathemba.

“Ons bedank ook die burgemeester, Andrew Zolile West, en die nuwe munisipale bestuurder, Thomas van Staden, wie se samewerking die munisipaliteit in staat gestel het om hierdie uitstaande kwessie vinnig te hanteer,” sê Pelster.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.