Central SA
Bloemfonteinse prokureur se bedrogsaak uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:32 Thu, 26 Jun 2025

Die Bloemfonteinse prokureur wat van boedelbedrog verdink word, moet weer op 17 Julie in die hof verskyn ná ’n versoek vir bykomende inligting deur haar regsverteenwoordiger.
Elmari Vosloo (47), ’n praktiserende prokureur, het Donderdag (26/6) haar eerste verskyning in die Bloemfonteinse landdroshof gemaak.
“Ons het nadere besonderhede, meer spesifiek ’n afskrif van die dossier, van die staat aangevra,” het haar regsverteenwoordiger adv. Allen Simpson ter ondersteuning van sy versoek om uitstel aangevoer.
’n Dagvaarding is op 11 Junie aan Vosloo beteken nadat die Valke die beweerde misdaad gepubliseer het, sê ao. Fikiswa Matoti, Valke-woordvoerder.
“Die prokureur is na bewering van Januarie 2015 tot Julie 2017 toevertrou met die bestuur van die klaer se boedel, wat ongeveer R6 miljoen in kontant ingesluit het,” het Matoti gesê.
“Die geld is na bewering na Vosloo se persoonlike bankrekening oorgeplaas, in plaas daarvan om dit in die vereiste trustrekening te deponeer. Hierdie wanbestuur het gelei tot ’n finansiële verlies van ongeveer R3,4 miljoen vir die klaer.”
Ondersoeke het aan die lig gebring dat die prokureur sonder ’n geldige getrouheidsfondssertifikaat gepraktiseer het – ’n wetlike vereiste vir alle praktiserende prokureurs.
Oor etlike jare is prokureurs daarvan beskuldig dat hulle ongeveer R1,4 miljard uit kliënte se trustfondse gesteel het in 561 aangemelde sake, maar slegs 59 skuldigbevindings is verkry – en slegs 25 het tot tronkstraf gelei, berig The Citizen.
In die 2023/24-boekjaar het die Padongelukfonds byna duisend klagtes ontvang wat verband hou met bedrog deur regslui. Altesaam 417 sake is na die polisie verwys.