On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse polisie waarsku teen afpersing

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:41 Fri, 27 Jun 2025

Noord-Kaapse polisie waarsku teen afpersing | News Article
Die polisie doen ’n beroep op die publiek om voorvalle van afpersing aan te meld.

Die Noord-Kaapse polisie waarsku inwoners teen afpersing, ’n misdaad wat toenemend wydverspreid en gevaarlik in Suid-Afrika word.

Hierdie groeiende misdaad bedreig die veiligheid en welstand van individue, gemeenskappe en besighede. In reaksie hierop doen die polisie ’n beroep op ’n gesamentlike poging om alle vorme van afpersing te voorkom, te bestry en aan te meld, sê kol. Cherelle Ehlers, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Afpersing is ’n kriminele oortreding waarin ’n individu onwettig geld, eiendom of dienste van ’n ander persoon verkry deur dreigemente, dwang of intimidasie. Hierdie dreigemente kan fisiese leed, eiendomskade, valse beskuldigings of die blootstelling van sensitiewe inligting insluit.”

Volgens Ehlers sluit algemene vorme van afpersing onder meer beskermingsrooftogte, kuberafpersing en finansiële afpersing in.

Sy sê deur bewus te wees van die taktieke wat deur afpersers gebruik word en proaktiewe maatreëls te tref, kan ’n mens die risiko aansienlik verminder en diegene rondom jou beskerm.

“Slagoffers word sterk aangemoedig om onmiddellike hulp van wetstoepassing of regslui te soek.”

Wenke om jouself te beskerm:

  • Bly waaksaam en versigtig vir verdagte of dreigende eise.
  • Vermy impulsiewe reaksies op dreigemente.
  • Hou gedetailleerde rekords van alle kommunikasie en eise.
  • Rapporteer enige vermeende afpersingsvoorvalle sonder versuim aan die polisie.
  • Beskerm sensitiewe inligting aanlyn met behulp van sterk wagwoorde en enkripsie-instrumente.

Algemene waarskuwingstekens van afpersing:

  • Ongeregverdigde eise vir geld, dienste of gunste.
  • Intimidasietaktieke, insluitend verbale dreigemente of geïmpliseerde skade.
  • Druk om vinnig of onder dwang op te tree.
  • Aanbiedinge om skade te voorkom slegs in ruil vir waardevolle items of nakoming.

Die polisie doen ’n beroep op die publiek om voorvalle van afpersing aan te meld deur die nasionale afpersingslyn by 0800 911 011 te kontak.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.