Central SA
Verkeerdevlei: Boere se saak uitgestel wat beweerde veediefstal keer─── CHARNÉ VAN DER MERWE 16:15 Fri, 27 Jun 2025

Die saak van die drie Vrystaatse boere wat na bewering probeer het om ’n veediefstal te voorkom is tot 10 Desember uitgestel.
Die hof moes ook vroeër verdaag omdat daar nie water was nie. Janné Smith, Lize-Mari Smith en Hendrik Steyn van die Verkeerdevlei-omgewing het Vrydag (27/6) in die Brandfortse landdroshof verskyn. Hulle word aangekla van poging tot moord, ontvoering, aanranding en regsverydeling.
Hul hofverskyning is Donderdag hervat vir ’n tweedaagse verhoor. Dis uitgestel nadat adv. Allen Simpson, Steyn se regsverteenwoordiger, tydens kruisondervraging versoek het dat sers. Ntombi Lydia Matlho wat op die toneel teenwoordig was, haar dagboek voorlê. Dit was weens teenstrydighede tussen haar skriftelike verklaring en haar getuienis in die hof.
Simpson wou verifieer wat Matlho op die dag van die voorval in haar dagboek geskryf het.
Die Smith-susters Vrydag buite die hof. Foto: Charne van der Merwe
Matlho het egter gesê dat sy nie haar dagboek kon vind nie.
Die staat het ook ’n ander getuie, Andries Borman, die Smith-susters se buurman, geroep om sy weergawe van die gebeure te gee. Borman is die werkgewer van een van die klaers – ’n pa en sy twee minderjarige seuns. Ten tyde van die voorval het die pa Borman se bakkie bestuur.
Volgens die Smith-susters het hulle op 30 Julie 2023 ’n verdagte Toyota Hilux opgemerk wat geparkeer was op die R703-teerpad tussen Verkeerdevlei en Excelsior wat hul plaasgrond skei.
Steyn het na bewering opgedaag om te help en hulle het dit as Borman se voertuig herken en hom gekontak om te vra of hy bewus was dat die pa sy voertuig bestuur het.
Die buurman het glo bevestig dat die pa wel toestemming gehad het om dit te gebruik maar nie op daardie oomblik nie. Hy het na bewering die susters gevra om die pa en sy seuns daar te hou.
Betogers tydens een van die vorige hofverskynings buite die hof. Foto: Facebook
Volgens die klaers is hulle toe aangerand. Hulle beweer dat hulle aangesê is om uit die bakkie te klim en die kinders is opdrag gegee om op hul knieë te gaan.
’n Woordewisseling het glo tussen Janné en die pa ontstaan waarna hy haar na bewering gestoot het. Hy het toe weggehardloop en sy het hom ongeveer 40 m ver gevolg.
Sy beweer dat hy in ’n veld ingehardloop het en omdat dit donker was kon sy nie presies sien waar hy gegaan het nie. Sy het na bewering twee waarskuwingskote in die grond afgevuur voordat sy na haar suster teruggekeer het wat alleen met die kinders was.
Die jongste seun (16) wat Donderdag onder die druk van kruisondervraging geknak het se kruisondervraging is nog nie afgehandel nie.
‘Geen bewyse wat Steyn met aanranding verbind nie’
Hy het begin huil en die hof moes twee keer verdaag nadat hy uitgevra is oor hoekom hy drie maande ná sy oorspronklike verklaring ’n nuwe een afgelê het.
In sy tweede verklaring het die seun beweer dat Steyn hulle aangerand en rassistiese opmerkings gemaak het. Steyn het na bewering ook die seuns gedwing om op hul maag te lê en hul hande met kabelbinders vasgebind.
Simpson het aangevoer dat daar geen bewyse is wat Steyn met die aanranding verbind nie. Die Smith-susters en Steyn is kort ná die voorval op hul plase in hegtenis geneem deur 30 swaar gewapende polisiebeamptes en lede van die Valke.