Central SA
Drie mans van Noordwes aangekeer vir roof, onwettige vuurwapens─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:45 Sun, 29 Jun 2025

Drie beskuldigdes sal weer op 11 Julie in die hof verskyn op verskeie aanklagte.
Dumisane Shabangu (33), Kenneth Hlongwane (25) en Tebogo Seodisa (22) is Woensdag (25/6) in ’n intelligensiegedrewe operasie deur die Brits Trio-taakspan en Makapanstad-speurders in Block A, Maubane-dorp in hegtenis geneem, sê brig. Sabata Mokgwabone, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Die verdagtes wat glo betrokke is by huis- en sakeroof is in die dorp aangekeer. Tydens die inhegtenisnemings is beslag gelê op twee vuurwapens, ses patrone, ammunisie, ’n selfoon, ’n boormasjien, klere en doeke.”
Al drie verdagtes word aangekla vir die besit van onwettige vuurwapens. Foto: SAPD
Die beskuldigdes het in die Temba-landdroshof verskyn en word as volg aangekla:
- Shabangu: sakeroof, onwettige besit van ammunisie en aanranding van ’n polisieman.
- Hlongwane: gewapende roof en onwettige besit van ’n vuurwapen.
- Seodisa (22): gewapende roof en onwettige besit van ’n vuurwapen.
Daar word nog ondersoek of die beskuldigdes met ander misdaad verbind kan word.
Daar is op verskeie items beslag gelê. Foto: SAPD
Mokgwabone hoop dat dit ’n bewys is van hul pogings om misdaad te bekamp.
Genl.maj. Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, sê daar word gehoop dat die beskuldigdes nie weer in die gemeenskap vrygelaat sal word om hul misdadige aktiwiteite voort te sit nie.
OFM Nuus dg