Central SA
Drie sterf, 90 gered by onwettige inisiasieskole in Noordwes─── 09:02 Fri, 04 Jul 2025

Drie seuns het gesterf en 90 is tot dusver gered uit onwettige inisiasieskole in Noordwes.
Die sterftes is op Klipgat, Ottoshoop en ’n plaas naby Alabama in Klerksdorp aangemeld, sê die Provinsiale Inisiasiekoördineringskomitee (PIKK).
’n Nasionale veldtog is op dreef om die veiligheid van inisiante tydens die winterinisiasieseisoen te verseker. Beamptes het reeds 18 onwettige skole gesluit sedert die aanvang van die seisoen, waarvan 14 in die laaste week van Junie alleenlik in die distrikte Bojanala Platinum, Dr. Kenneth Kaunda en Ngaka Modiri Molema was.
Elf seuns word steeds vermis ná hulle glo gelok is na ’n onwettige skool in Tsetse naby Mahikeng, sê Thebeetsile Keameditse, Noordwes-woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake. “Die verdagte operateur verskuif gereeld van plek na plek om inhegtenisneming vry te spring. Ons var die gemeenskap se hulp om hierdie seuns veilig terug te bring.”
Die polisie sal streng optree teen onwettige inisiasieskole wat seuns se lewe in gevaar stel. Foto: Noordwes-departement van samewerkende regering en tradisionele sake
Op ’n onlangse besoek aan Tigane buite Klerksdorp het die komitee ernstige ongerymdhede by twee skole ontdek. Hierdie skole is sonder die nodige dokumentasie bedryf, en twee sake is teen die oortreders geopen. Daar is ook berigte van ouers wat lospryse moes betaal om hul kinders terug te kry, wat dui op toenemende ontvoerings.
Andries Stemmer, ondervoorsitter van die PIKK, beklemtoon die proses moet gereguleer en gerespekteer bly. “Ons vra dat alle rolspelers, insluitend tradisionele en godsdiensleiers, die burgerlike samelewing en media saamwerk teen hierdie kommersialisering van ’n gewyde praktyk.”
Volgens Stemmer word die boodskap “A ba bowe ba phela” ernstig opgeneem. “Ons wil hê elke inisiant moet veilig huis toe keer. Geen skool mag sonder die regte goedkeuring funksioneer nie. Oortreders sal strafregtelik vervolg word,” het hy gewaarsku.
Geen oortreding geduld
Altesaam 103 skole is in drie distrikte goedgekeur om wettig te funksioneer – met uitsluiting van Dr. Ruth Segomotsi Mompati. Vir leerders het die inisiasieseisoen op 27 Junie begin, en alle skole sluit op 18 Julie sodat kinders betyds terug by die skool kan wees.
Die PIKK hou vol met monitering en sê geen oortreding van die Inisiasiewysigingswet van 2021 sal geduld word nie. Beamptes is vasbeslote om ongereguleerde praktyke stop te sit en só lewens te red.
OFM Nuus mc