Central SA
Oos-Vrystaatse polisie vra hulp om vermiste tiener op te spoor─── 14:54 Fri, 04 Jul 2025

Beamptes, familie en versorgers van ’n tiener van Bethlehem is bekommerd omdat hy reeds tien dae lank vermis word.
Jaden Swarts (17) het op 24 Junie 2025 vermis geraak van die Charlotte Theron-kinderhuis in Bethlehem.
Kommer neem toe oor sy veiligheid en welstand, sê ao. Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Enigiemand met inligting oor waar hy hom moontlik bevind, kan Bethlehem se speurbevelvoerder, lt.kol. Marius Nel, by 082 526 2717, nader.
Bel Stop Misdaad by 08600 10111 of Bethlehem se polisiekantoor by 058 307 5700 so gou moontlik met inligting.
Intussen versoek Phuthaditjhaba se speurdiens gemeenskapshulp met inligting wat kan lei tot die opsporing van ’n persoon van belang wat kan help met ’n diefstalondersoek. ’n Klaer beweer hy het omstreeks 15:00 op 25 Junie in ’n ry by die Mandela Park-winkelsentrum se OTM gestaan toe ’n onbekende man hom nader en hulp aanbied.
Die verdagte het beweer dat die OTM sy kaart ingesluk het en hy het aangebied om die klaer te help om dieselfde dilemma te voorkom. Hy het hom na die OTM gevolg, waar hy sy kaart ingesit en sy PIN ingevoer het.
’n Kunstenaarsvoorstelling van die gesoekte persoon. Foto verskaf/Bethlehem Plaaslike Kriminele Rekordsentrum
Daarna het die kaart verdwyn, en die verdagte was nie meer teenwoordig nie. Die slagoffer was onseker of die kaart deur die OTM ingesluk is, óf deur die verdagte geneem is.
Ná die voorval was daar egter ongemagtigde transaksies uit sy rekening. ’n Saak van diefstal word ondersoek, sê Mophiring.
Enige persoon met inligting wat kan lei tot die identifisering van die persoon van belang kan konst. Ramosebi nader by 058 718-0904 of 083 725 7997, of Stop Misdaad by 08600 10111.
OFM Nuus mvh