On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Biblioteek-uile op kampus stilweg ’n lewende voorbeeld van biodiversiteit in aksie

───   06:00 Tue, 08 Jul 2025

Biblioteek-uile op kampus stilweg ’n lewende voorbeeld van biodiversiteit in aksie | News Article
Een van die nonnetjie-uile by die UV-biblioteek. Foto: UV

’n Uilpaar wat nesmaak by die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Sasol-biblioteek het met hul hartroerende bewaringstorie bibliotekarisse, navorsers, studente en selfs families verenig in ’n unieke poging om stedelike wild te beskerm.

Dié nonnetjie-uilpaar het hul nes in die biblioteek se dakruimte gemaak, waar hulle kleintjies grootmaak en stilweg die kampus omskep in ’n lewende voorbeeld van biodiversiteit in aksie.

Sedert hul eerste waarneming in 2016 het die uile in 2023 die fokus geword van ’n kampuswye bewusmaking- en bewaringsinisiatief nadat een van die uile siek aangetref is – waarskynlik weens sekondêre vergiftiging. Tanya Scherman van die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) het vinnig opgetree en bystand verkry van natuurkenners, veeartse en prof. Francois Deacon van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe.

Een van die uile is siek aangetref. Foto: UV

“Dit het gelyk of die uil vergiftig is, heel waarskynlik weens sekondêre vergiftiging deur ’n besmette knaagdier,” verduidelik Scherman. “Ek het rondgebel om meer kundige mense te vind wat kon help,” sê sy. 

“Ek het ’n plaaslike veearts, die Uilreddingsentrum in Pretoria en prof. Deacon geraadpleeg. Ek wou weet hoe ons die uile veilig op kampus kon hou.”

Prof. Deacon en sy studente het ’n kamera geïnstalleer en ’n pasgemaakte broeikassie ontwerp, wat Scherman saam met haar pa gebou het. 

Tanya Scherman het die broeikassie saam met haar pa gebou. Foto: UV

“Dit was persoonlik,” sê sy. “Dit het gevoel of ek ’n huis vir ’n familie bou.” Die uile het gou gereageer – twee kuikens is in 2023 grootgemaak en ses eiers is vanjaar uitgebroei.

Die projek het ’n unieke leergeleentheid geword wat aan studente insig bied in dieregedrag en stedelike ekologie. “Ek is iemand wat passievol is oor stedelike wildbewaring en ek het ’n wonderlike geleentheid gesien – nie net om die uile te ondersteun nie, maar ook om studente by praktiese leer te betrek,” sê prof. Deacon. 

“Hierdie projekte bied ’n seldsame geleenthede om natuurlike dieregedrag intyds te bestudeer, buite die grense van ’n laboratorium. Die uile gee lewe aan handboeke,” sê hy en beklemtoon hul belangrike ekologiese rol: elke uilpaar kan honderde knaagdiere in ’n broeiseisoen vreet. 

Twee kuikens is in 2023 grootgemaak en ses eiers is vanjaar uitgebroei. Foto: UV

Prof. Vasu Reddy, adjunkvisekanselier van die UV vir navorsing en internasionalisering, wie se portefeulje ook biblioteke insluit, sien die uile as meer as net ekologiese bondgenote – hulle simboliseer harmonie tussen kennis en die natuur. “Ons biblioteek is nie net ’n gebou nie,” sê hy, “maar ’n lewende ekostelsel waar selfs diere hul plek het.”

“Die teenwoordigheid van die uile in die Sasol-biblioteek gee ’n nuwe betekenis aan Shakespeare se toneelstuk ‘All’s [Owls] Well That Ends Well’. Die uile het hulself genooi omdat hulle gedisoriënteerd en ontsteld was. 

“As ’n universiteit wat omgee, demonstreer ons deur ons tasbare aksies dat hul teenwoordigheid ons nuuskierigheid verder aanwakker. Op hierdie manier wys ons biblioteek hoe ons met die wêreld verbind deur nie net kosbare boeke en kennis te beskerm nie, maar dat ons ’n belangrike ekosisteem van empatie is. 

Inspirasie vir toekomstige projekte

“My opregte waardering gaan uit aan al ons kollegas wat onvermoeid werk aan hul deurdagte en toegewyde intervensies.”

Bo en behalwe bewaring, daag dié inisiatief mites en bygelowe uit, bevorder dit samewerking op kampus en inspireer dit toekomstige projekte – van groen gebiede tot bestuiwingsones. 

Prof. Reddy sluit af: “Die uile het vir ons ’n storie nagelaat – een van sorg, nuuskierigheid, en ’n gedeelde toekoms.”

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.