On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Potchefstroom-kinderhuis het dringend hulp nodig

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:15 Tue, 08 Jul 2025

Potchefstroom-kinderhuis het dringend hulp nodig | News Article
Die kinderhuis het dringend hulp nodig weens stygende koste. Foto The Citizen

Die Abraham Kriel-kinderhuis in Potchefstroom, wat 230 kinders tussen die ouderdom van twee en 18 jaar in sy sorg het, is al vir byna 70 jaar ’n hawe van veiligheid, liefde en tweede kanse vir kinders in nood.

Tans het die kinderhuis egter dringend hulp nodig weens stygende koste, ‘n vertraging in die betaling van staatsubsidies en die groeiende vraag na sy dienste. Die kinderhuis sukkel om selfs in die mees basiese behoeftes van die meer as 200 kinders te voorsien.

Die Abraham Kriel-kinderhuis word deur ’n ernstige finansiële krisis gekonfronteer. Die kinderhuis sukkel om uitgawes soos elektrisiteit, onderwys en mediese sorg te dek – noodsaaklikhede wat hulle tans nie vir die kinders kan voorsien nie. Ook onverwagse uitgawes is ’n probleem.

Die kinderhuis het tans 230 kinders waarna hulle omsien. Foto: Christie Saayman

“Ons kan nie kruideniersware koop nie. Ons kan nie die water- of elektrisiteitsrekeninge betaal nie,” sê Christie Saayman, hoof van die kinderhuis.

Sommige van die kinders het spesiale behoeftes – van trauma-ondersteuning tot gespesialiseerde mediese behandeling.

“Een van ons kinders ly aan ernstige gehoorverlies en het dringend ’n kogleêre inplanting nodig. Ten spyte van jare se behandeling het sy toestand versleg. Hy is ’n slim, atletiese leerling, maar sonder die operasie hang sy opvoeding en selfvertroue aan ’n dun draadjie. Die operasie sou sy lewe verander, maar die koste is ver buite die tehuis se vermoë.”

Die Liggiefees vind jaarliks plaas vir fondsinsameling. Foto Aldus Smith Photography

Volgens Saayman ontvang die kinderhuis slegs 38% van sy jaarlikse begroting van die departement van maatskaplike ontwikkeling. 

“Die res moet kom van gemeenskapskenkings en fondsinsamelingsgeleenthede. Die regeringsubsidies is nie net onvoldoende nie, dit word dikwels erg vertraag. Die 2024-subsidie is eers in November ontvang, en niks is vir 2025 ontvang nie.”

Tersiêre onderwys bied nog ’n groot uitdaging. Waar beurse soos dié van die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) voorheen gehelp het, het administratiewe probleme meegebring dat die kinderhuis moet betaal. Die kinderhuis weier egter om die studente in die steek te laat, sê Saayman. “Ons streef daarna om aan ons kinders die beste moontlike toekoms te gee.”

Die liggiefees vind van 28 November tot 31 Desember plaas. Foto Aldus Smith Photography

Stygende inflasie het sake vererger, met die dag-tot-dag-bedryfskoste wat steeds hoër word.

Agter die skerms is daar ’n hardwerkende span van 70 permanente personeel, insluitend maatskaplike werkers, onderwysers, gesondheidswerkers, kokke, skoonmakers en bestuurders, wat vir die kinders omgee. “Hierdie mense wy hul lewens aan hierdie plek. Maar liefde en toewyding alleen is nie genoeg nie,” sê Saayman.

Daar is egter hoop, veral wanneer die gemeenskap kan ingryp.

Die gemeenskap word versoek om die kinderhuis te help. Foto: Christie Saayman

Een beduidende manier om te help is deur die Liggiefees, die kinderhuis se grootste fondsinsameling en ’n geliefde jaarlikse tradisie in Potchefstroom. 

“Hierdie fees van ligte, wat van 28 November tot 31 Desember plaasvind, verander die tehuis in ’n wonderwêreld van musiek, kos, kinderaktiwiteite, ’n mark en duisende glinsterende liggies. Dit is feestelik, gesinsvriendelik en absoluut noodsaaklik vir die tehuis se oorlewing,” sê Saayman.

Ander maniere om te help sluit in:

- Die skenk van geld, kruideniersware, toiletware of klere.

- Om ’n kind deur ’n maandelikse debietorder te borg. Die ondersteuner word op die hoogte gehou van die kind se belangstellings, skoolvordering en mylpale.

- Vrywilligerswerk om te help met huiswerk, lees of skoolprojekte.

Vir meer oor die kinderhuis se huidige behoeftes of om ’n bydrae te lewer, besoek die webtuiste en kliek op “elp ons om hulle te help”.

“Hierdie kinders kan dit nie alleen doen nie. Maar met jou hulp hoef hulle nie,” sê Saayman.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.