Central SA
Riller van ’n ysbeerswem in vriesende Fouriesburg nié vir koudseriges─── 14:00 Wed, 09 Jul 2025

Die Polar Bear Plunge 2025, wat op 5 Julie op die plaas Arpa Adventure Farm van Christo Grobler in die distrik Fouriesburg gehou is, was ’n damswem wat deelnemers hard na hul asems laat snak het.
Die winterswem in die Arpa-dam, wat ysiger as yskoud is, is nie vir koudserige mense nie. Vir ’n goeie doel soos die Cluny Animal Trust (CAT) word die oë egter maar toegeknyp en word bloot ingeplons.
Dit verg dapperheid en deursettingsvermoë. Daarvan kan die 58 deelnemers getuig wat – terwyl die Maluti-berge se toppe in die verte skilderagtig met sneeu bedek was – dapper in die water van die Arpa-dam gespring en sowat 50 meter ver tot by die oorkantste oewer geswem (of gespartel) het. Elkeen van die swemmers is deur familie of vriende geborg en het ten bate van CAT deelgeneem.
Uitasem en met hul lywe dun van die skok het hulle gemaak vir die oewer aan die oorkant – ’n oewer so naby en tog so ver. Om hulle was menseredders op klein kano’s wat hulle met ’n fyn oog dophou. Dankie tog vir swembadnoedels en gidstoue om in sulke omstandighede rigting aan te wys. Daar was selfs ’n bietjie Sweepstakes-pret toe genommerde kleurballe na hulle in die water gegooi is. Dit was ’n kans om ’n lekker vet prys los te swem.
Die Polar Bear Plunge is jaarliks een van die mees besonderse projekte in Fouriesburg en word aangebied deur die plaaslike Cluny Animal Trust. Die Polar Bear Plunge lok mense van ver en is ook ’n hupstoot vir plaaslike toerisme. Fouriesburg Toerisme en die gemeenskappe is geesdriftig by die projek betrokke.
Dr. Elsa van Biljon is nou die hoofveearts van CAT. Foto: Fouriesburg Toerisme
CAT is ’n nie-winsgewende veeartsenykundige praktyk wat sedert 2011 in bedryf is en dien dierebelange in Fouriesburg en ander Oos-Vrystaatse dorpe en streke.
Een van die doelstellings van CAT is om na dierewelsyn om te sien, veral onder minder gegoede eienaars wat dit nie kan bekostig om diere te laat steriliseer of behoorlik na hul gesondheid om te sien nie. Dit is ’n hartseer toestand omdat ’n toenemende getal diere wat geen veterinêre behandeling ontvang nie, die slagoffers is van verwaarlosing, mishandeling, swak omstandighede en ander probleme rakende wreedheid teenoor diere.
Die stigter van CAT, dr. Katherine Barker, het na Nieu-Seeland geëmigreer. Sy het in 2004 ’n sterilisasieprogram begin wat steeds deur diereklinieke in Fouriesburg en Clarens bedryf word.
Dr. Elsa van Biljon is nou die hoofveearts van CAT, wat haar praktyk in Durban ná 23 jaar verruil het vir nuwe uitdagings in Fouriesburg. Sy is ’n Vrystater en oudleerling van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein. Die ankermense saam met haar by CAT is dr. Malefu Nyindi, Imogen Tarita, Jan Sander, Juanita Lewis, Jeminah Mosikili, Nico Mahlohla en Petrus Mosia.
Karen Pietersen van Rosendal het R7 000 ingesamel.
Die ysbeerswem in die Arpa-dam was ’n reuse-sukses. Die 58 deelnemers is, volgens Wanita Skors van Fouriesburg Toerisme, die grootste getal sedert Covid en dubbel soveel as in 2024. Ná die tyd is behoorlik feesgevier.
Die bibberende swemmers het lafenis gevind in ’n sementplaasdam met verhitte water (40 grade Celsius). Dit is spesiaal deur Sander, ’n trustee van CAT, voorberei. Die dam is geverf en daar is selfs ’n donkie gebou om die water warm te maak.
En terwyl die bibbereinders in die “warm dam” tot verhaal kon kom ná die buitengewoon uitdagende 50 meter, is hulle onder meer met Glühwein bederf. Musiek het vrolik in die lug gehang danksy Peter en Zac van M + M, wat spesiaal van Bethlehem gekom het. Danksy hulle was daar ook mediakontak met Maluti FM 97.1 in Bethlehem.
Twee besonderse deelnemers was die bekende skrywer Albert Blake (links) van Roodepoort en Allan Cornish (80) van Clarens, die oudste deelnemer. Dr. Elsa van Biljon help Cornish uit die water. Foto: Fouriesburg Toerisme
Blake sê dit was sy eerste deelname aan die Polar Bear Plunge. “Halfpad het dit goed gegaan totdat my liggaam van meer as sewe dekades en deurtrek met diabetes begin beswaar maak het. Die water was ysig koud.
“Vorige jare moes die boer glo eers die ys op die oewer stukkend slaan voordat die swemmers kon wegspring. Vroeg verlede Saterdagoggend was dit -7 hier in die berge, hoewel dit meer skaflik onder in die vallei was toe ons begin swem het. Die ys op die oewer het gelukkig in die oggend gesmelt.
Alle deelnemers kon meedoen om geld en dierekos by te dra. Foto: Fouriesburg Toerisme
“Met ’n gesukkel het ek deurgedruk. Die gees is nog gewillig vir avontuur, maar die liggaam neem nie meer verlief daarmee nie. Ek het uit die water gestrompel; my voete was dood van die koue. Die menseredder in die kano het tot die einde by my gebly om doodseker te maak dat die sukkelende oue die eindpunt haal! Hy was seker bang ek kom iets ergs oor. Ek dink vir die gemiddelde swemmer is die geleentheid seker, behalwe vir die ysige koue, ‘a walk in the park’.”
Cornish en sy gesin het ’n passie vir katte, en sy deelname was om met geldinsameling te help vir die uitstekende werk wat CAT doen.
So kon alle deelnemers meedoen om geld en dierekos by te dra. Die inskrywingsgeld per persoon was R100, plus ’n sak kat- of hondekos.
OFM Nuus/Susan Maré