On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Theunissen: Vyf mans in hof ná jong man se dood by inisiasieskool

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 06:00 Mon, 14 Jul 2025

Theunissen: Vyf mans in hof ná jong man se dood by inisiasieskool | News Article
Andile Zungulwa. Foto verskaf

Vyf beskuldigdes sal Maandag (14/7) in die hof verskyn in verband met die dood van ’n man (20) by ’n inisiasieskool.

Die beskuldigdes insluitend die eienaars en onderwysers van ’n inisiasieskool in die Vrystaat sal op aanklag van moord, regsverydeling en oortreding van die Wet op Inisiasieskole in die Theunissen-landdroshof verskyn, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder. 

Die familie van die oorledene het aan die SAUK in die Vrystaat gesê hulle is verpletter en wil geregtigheid hê. Die vermoorde Andile Zungulwa se liggaam is Dinsdag (8/7) in Tamaspruit naby Theunissen ontdek. Hy is as vermis aangemeld nadat hy op 27 Mei ’n inisiasieskool sonder sy ouers se toestemming bygewoon het.

Volgens sy tannie Nontsokolo Zungulwa het die familie glo ingestem dat hy eers gedurende die somer-inisiasieseisoen dit kan bywoon.

Andile Zungulwa se liggaam is naby Theunissen gevind. Foto: SAPD

Sy sê hulle was aanvanklik bekommerd toe Zungulwa glo dieselfde dag van die inisiasieskool weggehardloop het.

“Ons het geweier om te betaal totdat ons seker was dat die skool wettig was. Ons het uiteindelik R3 000 betaal en dokumente geteken wat ons later uitgevind het vervals is.” 

Volgens haar het die onderwysers op 30 Junie aan hulle teenstrydige stories vertel. “Hul eerste storie was dat Andile weggehardloop het en toe weer dat ’n groep mans die skool aangeval en hy toe gevlug het. Hulle het hom glo gaan soek, maar volgens gerugte wat ons gehoor het, is hy doodgemaak.”

Die agterdog het toegeneem toe die familie besef het dat niemand aktief na hom soek nie en dat sy naam nie in die skool se amptelike rekords verskyn het nie. Selfs die plaaslike inisiasiekomitee was onbewus van sy teenwoordigheid.


Volgens die SAUK het die familie op 3 Julie ’n saak van ’n vermiste persoon geopen ten spyte daarvan dat hulle deur die skool gewaarsku is om nie die polisie te betrek nie. Dae later is sy liggaam met toue vasgebind ontdek en daar was tekens van aanranding. “Dit was nie ’n ongeluk nie. Dit was vooraf beplan,” sê Nontsokolo

“Geregtigheid moet seëvier. Ek wil nie hê daardie mans moet vrygelaat word nie. Hulle moet in die tronk vrot.”

Owerhede het sedertdien die onwettige skool gesluit en 21 oorlewende ingewydes met hul families herenig.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.