Central SA
Kimberley: Polisie soek hulp ná man se liggaam ontdek is─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:57 Mon, 28 Jul 2025

Die Noord-Kaapse polisie is op soek na enige inligting wat kan help met die identifikasie van ’n onbekende man, wat dood langs ’n pad gevind is.
Die eenheid vir ernstige en geweldsmisdade doen ’n geregtelike doodsondersoek ná die dood van ’n onbekende man wat op die R31-pad naby die Kimberley/Griekwastad-sirkel gevind is, sê lt. kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder.
’n Vragmotorbestuurder het op die man se liggaam afgekom en die polisie Vrydag (25/7) omstreeks 20:00 genader.
Volgens Kock is die onbekende oorledene ongeveer 1,7 m lank, donker van gelaat en het hy swart jeans en ’n blou baadjie aangehad.
Enigiemand met inligting kan met sers. Kelaegile Mosala by 082 302 0407 kontak of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.
Die ondersoek duur voort.
Geen wagtydperk
Die Noord-Kaapse polisie herinner mense dat daar geen wagtydperk is om vermiste mense aan te meld nie.
Maak só wanneer iemand vermis word:
- Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik.
- Gee ’n volledige beskrywing van die vermiste mens se laaste verblyfplek, klere wat hulle gedra het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help.
- Voltooi en onderteken ’n SAPD 55(A)-vorm. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en vrywaar die polisie om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei.
- Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar word.
- As ’n vermiste persoon gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. ’n SAPD 92-vorm moet voltooi word om die Buro vir vermiste persone in kennis te stel sodat die vermiste persoon se verslag uit die sirkulasiestelsel gehaal kan word.
OFM Nuus cg