Central SA
Moordverdagte in Noord-Kaap gesoek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:36 Tue, 29 Jul 2025

Die Noord-Kaapse polisie vra inwoners moet help om ’n verdagte op te spoor nadat ’n ontploffing by ’n plaaslike sjebien ’n man se lewe geëis en 13 ander mense beseer het.
Die polisie op Jan Kempdorp ondersoek ’n saak van moord en poging tot moord, sê lt. kol. Sergio Kock, provinsiale polisiewoordvoerder.
’n Groep van 14 volwasse mans en vroue het Sondag (27/7) omstreeks 03:30 om ’n vuur sit en kuier. ’n Onbekende man het na bewering tydens ’n tydelike kragonderbreking ’n ongeïdentifiseerde voorwerp in die vuur gegooi, wat ’n hewige ontploffing veroorsaak het.
Verskeie mense het brandwonde opgedoen
Al 14 mense het brandwonde opgedoen en is na ’n nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling. Een van die mans (35) het egter aan sy beserings beswyk.
Die polisie doen ’n beroep op lede van die publiek vir hulp om die onbekende persoon van belang op te spoor wat moontlik met die ondersoek kan help.
Enigiemand met inligting rakende die voorval of die verdagte se verblyfplek word versoek om sers. Olebogeng Wesi by 060 976 9070 te nader of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.
OFM Nuus cg