Click on the warning image to view this post
Central SA
Polisie moet nog bevestig liggame in KZN dié van vermiste Noordwesters─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:57 Wed, 30 Jul 2025
Die polisie in Noordwes sê hulle kan nog nie bewerings bevestig wat ’n grusame vonds naby Pietermaritzburg verbind met die verdwyning van twee mans van Noordwes nie.
Christiaan van Blerk (34) en Donovan van der Walt (25) is laas op 14 Julie gesien nadat hulle na bewering op pad was om onderdele in Klerksdorp se nywerheidsgebied op te laai.
“Die liggame van twee ongeïdentifiseerde mans is Maandag (28/7) in die vroeë oggendure in die Snathing GG-gebied naby Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal gevind,” sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder. Dit lyk asof die mans elders vermoor is en hul liggame na ’n oop veld geneem is.
Donovan van der Walt (25) en Christiaan van Blerk (34) Foto: Noordwes-polisie
Dit blyk die slagoffers is nie uit die omliggende gemeenskap afkomstig nie.
Volgens Myburgh het albei mans ernstige beserings opgedoen, veral aan die gesig en kop, wat daarop dui dat hulle met uiterste geweld vermoor is.
Van Blerk (34) is skraal gebou, ongeveer 1,8 m lank, met lang bruin hare en bruin oë. Hy het ’n litteken aan sy regterwang, ’n kruis-tatoe op sy boarm en ’n hoefyster-tatoe op sy bobeen.
Skermskoot van die verklaring. Foto: SAPD-groep
Van der Walt (25), ook skraal gebou, is ongeveer 1,6 m lank, met bruin hare, ligblou oë en ’n swart snor en baard. Hy het verskeie tatoes, insluitend ’n leeu aan sy linkerarm/hand.
Hulle was na bewering in Afrikaner Plot in Wesselstraat, Meiringspark en het ’n wit Toyota Hilux Raider-bakkie met registrasienommer KWF254NW bestuur.
Die voertuig waarmee die vermiste mans gery het. Foto: Noordwes-polisie
Die polisie vra die publiek en media moenie onbevestigde berigte versprei nie, aangesien dit die ondersoek sal belemmer en kan lei tot onnodige smart vir die mans se naasbestaandes.
“’n Amptelike verklaring sal uitgereik word sodra akkurate inligting bevestig is,” sê Myburgh.
OFM Nuus mvh