On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Mensehandel: ken die gevare

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:39 Wed, 30 Jul 2025

Mensehandel: ken die gevare | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Mensehandel is ’n groeiende krisis – en dit gebeur nie net in ander lande of groot stede nie. Dit gebeur hier, in ons eie gemeenskappe, reg onder ons neus.

Ouers, voogde en die breër gemeenskap moet die tekens leer herken om die kwesbaarstes te beskerm – veral kinders.

Die mees algemene tekens van mensehandel is dikwels nie sigbaar vir buitestanders nie, sê Karen Vermeulen, ’n gesins-en-kinderterapeut wat nou saam met slagoffers en projekte teen mensehandel werk.

“Slagoffers het gewoonlik beperkte vryheid van beweging. Hulle is amper nooit alleen nie en word altyd van iemand vergesel. Hulle praat nie self nie – die persoon wat by hulle is, praat namens hulle. Hulle het ook geen toegang tot hul geld nie.”

Isolasie, angs of depressie

Sy verduidelik dat fisiese mishandeling of swak gesondheid ’n moontlike teken kan wees, maar daar is ook ander aanduidings. “Hulle stories maak nie sin nie. Hulle lyk bang om vrae te beantwoord. Hulle werk dikwels lang ure sonder betaling of rus. En dan is daar skielike gedragsveranderinge soos isolasie, angs of depressie.

Kinders en tieners is veral kwesbaar omdat hulle maklik gemanipuleer kan word. “ ’n Kind kan met iets so eenvoudig soos ’n lekkertjie omgekoop word om stil te bly. Hulle smag dikwels na aandag, aanvaarding en liefde – en dit maak hulle vatbaar vir belowende geleenthede soos modelwerk of oorsese reise.”


Vermeulen wys ook daarop dat armoede ’n groot rol speel. In huise waar ouers lank werk of afwesig is – veral enkelouergesinne – bly kinders dikwels sonder toesig.

“In ’n land waar werkloosheid so hoog is, soek mense enige manier om geld te maak. As ’n kind glo hy of sy kan modelwerk doen en geld verdien, sal hulle enigiets maklik glo.”

Sosiale media, sê sy, is tans een van die grootste bedreigings. “Dis die primêre manier waarop kinders gekontak en gemanipuleer word. Mensehandelaars gebruik vals identiteite, gee emosionele ondersteuning en maak beloftes. Kinders deel te veel aanlyn – en dit word teen hulle gebruik, selfs vir afpersing of dreigemente.”

Vermeulen vertel ouers moet gedragsveranderinge fyn dophou. “Kinders wat geheimsinnig raak oor hul aanlynaktiwiteite, nuwe vriende het waarvan hulle nie wil praat nie, of geskenke en geld kry sonder verduideliking, is moontlik in gevaar.”

Armoede, werkloosheid, ongelykheid 

Ander tekens sluit in depressie, aggressie, isolasie, of ’n skielike belangstelling in kompetisies of werkgeleenthede. “As hulle defensief raak of vrae vermy, moet jy oplettend wees,” sê sy.

Gevra waarom mensehandel aanhou toeneem, selfs in sogenaamde “veilige” gemeenskappe, sê sy dat armoede, werkloosheid en ongelykheid mense dryf tot wanhoop. Daar is ’n groeiende vraag na goedkoop arbeid, seksuele uitbuiting en selfs organe. En baie gemeenskappe is in ontkenning – hulle dink dit sal nooit met húlle gebeur nie.”

Sy waarsku ook teen algemene wanpersepsies. “Baie mense dink dit gebeur net oorsee, of dat slagoffers altyd ontvoer word. Maar baie word stadig oor tyd beïnvloed – sonder geweld.

“En dit is nie net vroue wat geteiken word nie. Seuns en mans is ook slagoffers, veral in arbeidsuitbuiting en seksuele misbruik. Enigiemand kan geteiken word – ryk of arm.”

Karen Vermeulen. Foto verskaf/Karen Vermeulen

Suid-Afrika het verskeie hoërisikogebiede, sê Vermeulen. Dit sluit grensposte, hawens, internasionale lughawens, taxi- en busstasies, winkelsentrums, skole, en plattelandse gebiede met hoë werkloosheid in. “Groot stede met baie migrante of kinders sonder toesig, asook onwettige werkplekke soos nagklubs en plase, is ook gevaarsones.”

Wat moet jy doen as jy vermoed iemand is in gevaar?

Vermeulen duidelik dat mense nie moet probeer om GI Joe te speel nie. Jy kan jouself en die slagoffer in gevaar plaas. “Kry diskreet soveel inligting as moontlik bymekaar en rapporteer dit by die Suid-Afrikaanse nasionale mensehandelhulplyn. Hulle is 24/7 beskikbaar en jy kan anoniem bel. Jy kan ook die polisie, plaaslike maatskaplike werkers of 10111 kontak.”

Verskeie organisasies, hulpbronne beskikbaar

Hoewel die nasionale mensehandelhulplyn die eerste stap is, werk Love Justice International by grensposte, en die 21 Campaign is ’n wêreldwye teenmensehandel-organisasie.

“Mensehandel gebeur reg onder ons neuse,” sê Vermeulen. “En ons almal het ’n verantwoordelikheid om iets daaraan te doen.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.