Central SA
Vrystaatse onderwysdepartement vermoed brandstigting by Verkeerdevlei-skool─── ZENANDE MPAME 12:56 Thu, 31 Jul 2025
Die Vrystaatse departement van onderwys werk aktief daaraan om die uitwerking van ’n brand by die Refihletse Combined School op Verkeerdevlei te versag.
Dié skool is die enigste in dié omgewing, noord van Bloemfontein, en bedien meer as 500 leerders.
Die brand het een van die skoolblokke verwoes, wat onder meer ’n kombuis, ’n eetsaal, vyf klaskamers en ’n pakkamer met rekenaars en handboeke insluit. Blykbaar het die brand Dinsdagaand (29/7) ontstaan, toe die departement daarvan in kennis gestel is.
Die gemeenskap is intussen versoek om saam met die polisie te werk om die vermeende brandstigter op te spoor. “Ons het prima facie-bewyse dat dit wel brandstigting kon wees,” sê Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse onderwysdepartement.
’n Saak is geopen en die polisie ondersoek die voorval. “Ons is nog besig om die omvang van die skade te bepaal, maar dit is duidelik dat ons die saak baie ernstig opneem.
“As dit wel brandstigting is, sien ons dit as hoogverraad – as ’n aanval op die staat, want om ’n skool af te brand is om die toekoms van ons kinders aan te val.” Die departement doen ’n beroep op die gemeenskap om saam met wetstoepassers te werk om die verdagte op te spoor.

Die departementele woordvoerder beoordeel die skade by die skool. Foto: Howard Ndaba/verskaf
“Dit is ’n groot verlies vir die gemeenskap, want dit is die enigste skool op die dorp.” Leerders sukkel nou om toegang tot hul skoolvoeding te kry, aangesien die kombuistoerusting uitgebrand het.
Die departement sê dis die tweede poging om die skool aan die brand te steek, nadat iemand se poging om ’n klaskamer aan die brand te steek, verlede maand gefnuik is. Hulle het intussen planne beraam om te verseker dat leerders steeds hul voeding ontvang.
“Ons gaan ook psigososiale ondersteuning bied aan enige leerder wat dit nodig het,” sê Ndaba. “Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om hul skool te beskerm – dit behoort aan hulle en hulle moet dit koester en veilig hou.”
