Central SA
Kind in Douglas beseer nadat hy op elektriese kabel trap─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:50 Sat, 02 Aug 2025

’n Dringende ondersoek word geëis nadat ’n kind in Douglas in die Noord-Kaap ernstige beserings opgedoen het nadat hy in aanraking gekom het met ’n elektriese kabel in ’n openbare park.
Die DA eis ’n onmiddellike ondersoek na die voorval, asook aanspreeklikheid vir diegene wat verantwoordelik is binne die plaaslike owerhede.
Dr. Delmaine Christians, DA-parlementslid en kiesafdelinghoof vir Diamond South, het die beseerde kind en sy gesin hierdie week in die hospitaal besoek. Sy is vergesel deur Lemfvia van Niekerk, DA-raadslid vir Siyancuma.
“Die kabel wat verantwoordelik is vir die besering is voorheen deur raadslid Van Niekerk aan die Siyancuma-munisipaliteit gerapporteer, maar geen effektiewe stappe is gedoen nie. Die munisipaliteit het bloot ’n draadbedekking oor die kabel geplaas, wat ’n ernstige gevaar vir kinders bly.”
Sy het beklemtoon dat dit nie ’n geïsoleerde voorval is nie.
‘Munisipaliteit is bewus gemaak van gevaar’
“Ons het te doen met herhaalde en growwe nalatigheid. Die munisipaliteit is bewus gemaak van die gevaar, maar het dit nie behoorlik uitgeskakel nie.”
Sy het ook kommer uitgespreek oor die aanvanklike mediese behandeling wat hul seun by die Hester Malan-hospitaal in Douglas ontvang het.
“Volgens die ouers is die kind ondersoek en met salf huis toe gestuur. Dit was eers nadat sy been by die huis begin ruk het dat hulle die volle omvang van die besering besef het. Sy voet is beseer nadat sy skoen gebrand het. Hy is toe na ’n private hospitaal in Kimberley geneem.”
‘Dit is nie bloot ’n tegniese fout nie’
Die DA versoek dat Maruping Lekwene, Noord-Kaapse LUR vir gesondheid, die bewering ondersoek dat hy nie die regte behandeling by die staatshospitaal gekry nie.
“Die oop elektriese kabel wat kinders beseer nadat dit reeds aangemeld is kan nie sonder gevolge toegelaat word nie. Dit is nie bloot ’n tegniese fout nie. Dit is ’n kwessie van aanspreeklikheid en die fundamentele plig om lewens te beskerm.”
Christians waarsku dat die park ’n daaglikse bymekaarkomplek vir kinders is en dat dit steeds gevaarlik is. “Die DA sal voortgaan om te veg vir munisipaliteite wat veiligheid en dienslewering prioritiseer en vir plaaslike regerings wat hul inwoners dien, hulle nie skade berokken of hul lewe in gevaar stel nie.”
OFM Nuus dg