On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Bothaville: Beroep op polisiekommissaris om in te gryp ná verkragting

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:18 Sun, 03 Aug 2025

Bothaville: Beroep op polisiekommissaris om in te gryp ná verkragting | News Article
Die Bothaville-polisie het nog niemand in hegtenis geneem nie. Foto: iStock

'n Dringende beroep is op die Vrystaatse polisiekommissaris gedoen om in te gryp nadat ’n vrou in die provinsie na bewering wreed aangerand en verkrag is.

 Die VF Plus doen dié beroep op lt.genl. Baile Motswenyane nadat ’n vrou (60) van Bothaville Saterdag (26/7) helder oordag met ’n hamer op die kop geslaan en toe verkrag is, sê Jan van Niekerk, Vrystaatse partyleier.

OFM Nuus het voorheen berig sy is na bewering verkrag ná drie houe met ’n byl teen die kop.

Die vrou het Saterdag ’n kraniotomie ondergaan om die druk te verlig op haar brein wat deur bloeding veroorsaak is.

Jan van Niekerk. Foto: VF Plus

Ten spyte van berigte dat ooggetuies ’n verdagte geïdentifiseer het, het die Bothaville-polisie nog niemand in hegtenis geneem nie omdat hulle haar nog glo moet ondervra. 

Van Niekerk sê as die verdagte bekend is, stuur die gebrek aan aksie ’n gevaarlike boodskap aan slagoffers en gemeenskappe.

“Die Vrystaat staan bekend as die provinsie met die hoogste verkragtingsyfer in Suid-Afrika met 'n onlangse syfer van byna 24 uit elke 100 000 vroue.”

‘Een van die gevaarlikste plekke vir vroue’ 

Van Niekerk sê sedert begin 2025 is daar ’n styging van 4% in seksuele geweld en poging tot moord op vroue. Dit maak die Vrystaat een van die gevaarlikste plekke vir vroue in die land.

Die regering se retoriek oor die bekamping van geweld teen vroue beteken niks as die polisie versuim om op te tree wanneer sulke gruwelike aanvalle plaasvind nie. Dade moet by woorde pas.

Die VF Plus betuig sy meegevoel met die slagoffer en haar familie en wens hulle sterkte toe op die pad na herstel. Die party sal voortgaan om druk uit te oefen om te verseker dat geregtigheid geskied.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.