On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Verdagtes aangekeer kort ná Smithfield-plaasaanval

───   09:47 Mon, 04 Aug 2025

Verdagtes aangekeer kort ná Smithfield-plaasaanval | News Article
Foto: Pexels.com

Twee verdagtes verskyn na verwagting binnekort in die hof ná ’n rooftog op ’n plaas in die Suid-Vrystaat.

Die polisie, privaat sekerheidsmaatskappye en omliggende boere het flink gereageer nadat ’n bejaarde egpaar vroeg Sondagmiddag (3/8) op hul plaas in die distrik Smithfield beroof is, sê kapt. Loraine Earle, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die bejaarde egpaar (78 en 81) het omstreeks 13:30 van die NG kerk Smithfield na hul plaas teruggekeer. “Die vrou het die huis binnegegaan en haar man buite gelos,” sê Earle. “Op pad na die kombuisdeur het twee onbekende verdagtes haar oorweldig.

“Hulle het haar aangerand, haar met messe gedreig en haar gedwing na waar haar man nog op pad na die huis toe was. Die verdagtes het albei slagoffers in die huis ingedwing en hulle vasgebind.”

Die slagoffers het teruggekeer van die kerk op Smithfield toe hulle oorval is. Foto: Danie Theron

Die verdagtes het toe die huis geplunder en selfone, kontant en juweliersware geneem. Die man is gedwing om geld na hulle toe oor te betaal, sê Earle. Hierna het hulle die man in sy eie voertuig gedwing en met hom weggery. Hulle het hom kort daarna in die toegangspad na die plaas gelos en in sy voertuig gevlug.

Die slagoffers het plaaslike boere geaktiveer en die polisie ontbied, wat flink gereageer het. Kort daarna is twee mans (29 en 36) op die pad na Bethulie aangekeer. Kontant en die gesteelde voertuig is teruggevind, sê Earle.

Lt.genl. Baile Motswenyane, Vrystaatse polisiekommissaris, het die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdade opdrag gegee om die omvattende ondersoek te lei. Forensiese deskundiges het reeds die misdaadtonele ondersoek.

Polisiehoof betuig haar dank

Die verdagtes bly in aanhouding en word aangekla van huisbraak met verswarende omstandighede, motordiefstal en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Motswenyane betuig haar opregte dank aan die boere, privaat sekerheidsfirmas en polisiebeamptes vir hul vinnige optrede. “Die soomlose samewerking tussen die gemeenskap, ons plattelandse veiligheidsvennote en polisie-eenhede het verseker dat die verdagtes voor sononder van die strate verwyder is. Dit is ’n klassieke geval van geïntegreerde plattelandse veiligheidsoptrede.”

Die ondersoek duur voor, sê Earle.

OFM Nuus cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.