Central SA
Trane rol toe Winburg se oudste inwoner (94) verhuis─── SUSAN MARÉ 09:15 Tue, 05 Aug 2025

’n Blaasorkes van Winburg se weergawe van “As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels …” toe Andries Kruger (94) by sy afskeidsgeselligheid aankom, het trane in mense se oë gebring.
Kruger, ’n legendariese bouer op die dorp, se oë was maar self vogtig en die oomblik was groot. Dié oudste inwoner van Winburg in die oudste dorp van die Vrystaat was dekades lank ’n gelukkige Winburger.
Michael en Martli Landsman van M&M Trading House, waar die geselligheid gehou is, het die leiding met die afskeid geneem. Verskeie mense en oud-inwoners van Winburg van so ver as Australië het bygedra om die geleentheid moontlik te maak.
Mense wat Oom Andries Kruger (voor, middel) se afskeid bygewoon het is van links Sarel en Elsa van Biljon, Siegfried Appel, Thinus en Marian van der Walt, Daviena Smit, Kathy du Toit, Piet van Straten en Pastoor Mooi. Foto verskaf
As bouer, wat lewenslank gerespekteer was en glo ’n kwart van die dorp opgerig het, is ’n sertifikaat van erkentlikheid deur die burgemeester, Dimakatso Modise, en raadslid Brunhilde Rossouw van die Masilonyana-munisipaliteit aan hom oorhandig.
Kruger was agt jaar oud toe sy pa in Winburg kom boer het. Die Krugers het eers in die distrik Senekal geboer, maar tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het sy pa as krygsgevangene op Ceylon beland.
Ná die vredesluiting het sy pa die grond verkoop en hy, ’n broer en Andries se oupa het na Samentos in Argentinië geëmigreer waar hulle met sowat 3 000 skape geboer het. Ná jare in Samentos het hulle die skip gehaal terug na Suid-Afrika, in Kaapstad op ’n trein geklim en teruggekom na die Vrystaat. Hulle is reguit Winburg toe waar Andries se pa vir lank geboer het.
Op Winburg was Kruger bekend as die koning van bouers. Hy het die hospitaal gebou en skure op plase opgerig, asook die meeste van die geboue om die NG Kerk Rietfontein en nog baie ander.
Onder sy hande het die geboue van Standard Bank, die hospitaal en die OK as die laaste gebou op die dorp verrys. Oom Andries vertel hy het vir ’n kort ruk in sy jong lewe by die myne op Welkom en Virginia gewerk en daar geleer bou.
Siegfried Appel en Ria Smit oorhandig aan Kruger ‘n platskermtelevisie namens vriende wat van so ver as Australië bydraes gemaak het. Foto verskaf
Sy ambag was lewenslank sy trots. Hy het ná die myne weer op Winburg kom vashaak wat sy tuiste vir 87 jaar was waar hy baie gelukkig was.
Hy was 50 jaar getroud met wyle Helena, ’n landdros, en is tans met Sera getroud. Van sy twee seuns leef net een. Dries is in Durban die hoof van Raubex.
Sy dogter, Lienkie, woon in Morgansbaai waar hy vir haar ’n huis gebou het. Hy het ook twee susters wat in Kanada en in Johannesburg woon.
Mineagle de Bruin sê sy ken hom van kindsbeen en het voor hom grootgeword. Hy was ’n steunpilaar in die gemeenskap en kon alles met uiterste perfeksionisme bou – damme, krippe, geboue.
Hy het ’n plan gehad vir alles. Op 80 jaar het hy nog op dakke geklim en selfs op 90 steeds aan laer strukture gebou.
Sy het gehuil toe die koor en orkes in die strate die lied “Stimaia” (hy gaan weg) laat opklink het. “Toe die treklorrie met sy besittings na Marquard vertrek, het Winburg ‘n groot legende verloor. Hy het dié eerbetoning en mooi afskeid verdien.”
Siegfried Appel en Ria Smit het namens vriende Kruger se geskenk aan hom oorhandig. “Oom Andries het my die Argentynse manier geleer om ’n skaap op die spit te braai.
“Hy was ’n gedrewe en sterk mens. Ek sal altyd met respek aan hom dink,” sê Appel.
Kruger sê hy weet nie hoe om dankie te sê nie. “Winburg en sy mense sal altyd helder in my gemoed wees, maar dit was tyd om aan te skuif.
LEES OOK: Verken die wêreld in 32 liedjies met Marie Vassiliou en Nicolene Gibbons
“Ek en Helena was 50 jaar getroud en het drie kinders. Dit was ’n gelukkige lewe.
“Sera, met wie ek nou getroud is, is nog nie eens 72 jaar oud nie. Sy het ’n operasie gehad en sukkel nog ’n bietjie om te loop, maar ons is opgewonde om in Marquard te wees en skrop nou eers behoorlik nes in ’n drieslaapkamerwoonstel.
“Ons sien uit na ons lewe in Marquard.”
LEES OOK: ‘Ek voel nie oud nie’ – 96-jarige Ellie van Bethlehem
Hy betuig sy dank teenoor die Landsmans en almal wat vir hom die afskeid gereël het.
“Ons afskeidsgeskenk – ’n platskermtelevisiestel, groter as wat ek gehad het – het my voete onder my uitgeslaan. Ek gaan darem nou lekker rugby kyk!
“Ek sê vir die Here dankie vir al julle goedheid en mense soos julle.”