On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

LUR vir onderwys mik na beter Noordwes-matriekuitslae

───   KEKELETSO MOSEBETSI 13:49 Tue, 05 Aug 2025

LUR vir onderwys mik na beter Noordwes-matriekuitslae | News Article
Noordwes LUR Viola Motsumi. Foto verskaf

Noordwes se LUR vir onderwys het ’n veldtog van stapel gestuur om die provinsie se matriekprestasie te verbeter deur gesprekke met skole wat onderpresteer.

Hierdie betrokkenheid maak deel uit van ’n groter strategie om onderwysvlakke te verbeter, veral in gebiede wat gedurig swak vaar. 

Die jongste sessie was Dinsdag (5/8) by die Laerskool Stellaland. Noordwes se matriekslaagsyfer was verlede jaar 87,5%, vierde plek landwyd. Op dié besoeke wil Viola Motsumi kernprobleme in skole te identifiseer en saam met skoolhoofde en beheerliggaamvoorsitters praktiese, volhoubare oplossings ontwikkel. 

Die sessies wil nie net onderwysuitdagings die hoof bied nie, maar verantwoordbaarheid aanmoedig en ’n padkaart vir sukses skep. Die slagspreuk van die distrik Dr. Ruth Segomotsi Mompati is “95%–100%” – ’n dapper mikpunt, wat die departement glo haalbaar is met deeglike monitering en doelgerigte ingryping, sê Mphata Molokwane, provinsiale onderwyswoordvoerder.

“Hierdie teiken kan bereik word deur noukeurige toesig oor interne moderering, gehalte-assessering, effektiewe verlofbestuur en verslagdoening gebaseer op bewyse.”

Motsumi het in haar toespraak erken daar is steeds uitdagings in die distrik, voeg hy by. Sy het daarop gewys dat, ondanks die ambisieuse 95%-teiken, die prestasie van leerders in gr. 4 tot 11 steeds onder 70% bly.

Uitslae steeds in die rooi sone

Dié tendens het in 2024 begin en toon geen betekenisvolle verbetering in die eerste twee kwartale van vanjaar nie. “Die uitslae is steeds in die rooi sone,” het sy gewaarsku en beklemtoon dat dit die distrik se vordering kan kelder.

Motsumi beskryf wel die goeie prestasie van matrieks as ’n ligpunt. Sy is ingenome met hul verbetering vergeleke met die vorige jaar. 

“Ek is baie tevrede met die uitslae van die gr. 12-klas in die eerste en tweede kwartaal in vergelyking met 2024. Daar is bemoedigende tekens, en as ons dié verbetering kan handhaaf, kan ons die 95%-teiken bereik.”

Swak prestasie in sekere distrikte by die naam genoem

In die eerste twee kwartale het gr. 12’s onderskeidelik 85% en 84% behaal – ’n goeie verbetering teenoor die 77% en 78% in dieselfde tydperk verlede jaar.

Motsumi het egter nie geskroom om swak prestasie in sekere distrikte by die naam te noem nie. Die onderwyskantore in Groter Taung, Kagisano Molopo en Naledi is uitgelig vir aanhoudende swak resultate in gr. 4 tot 11. 

Hoewel dié distrikte goed presteer in gr. 12 met syfers bó 80% in albei kwartale, beklemtoon Motsumi dat verbetering in alle grade noodsaaklik is vir volgehoue sukses. Sy loof ook die prestasies van sekere streke, waar skole meer as 80% in gr. 12 behaal het, maar is bekommerd oor ander wat in albei kwartale minder as 70%-slaagsyfers behaal het. 


“Hierdie uitslae kan die hele distrik se vordering kniehalter as dit nie aandag kry nie,” maan sy en beklemtoon die belangrikheid van volgehoue ingryping. Die wisselvallige uitslae van sommige skole pla haar ook en sê dit moet dringend reggestel word.

Motsumi stel voor dat naweekkampe van 5 September af gehou word, met die klem op WTN-vakke en kernvaardighede soos algebra, trigonometrie en grafiekinterpretasie. Die doel is om werkkaarte doeltreffender te gebruik en geteikende ondersteuning aan sukkelende leerders te bied.

Molokwane sê Motsumi se uitreikingspogings sal voortgaan in verskeie distrikte. Hierdie interaktiewe sessies maak deel uit van ’n streekwye poging om onderwysstandaarde te verbeter en te verseker dat Noordwes sy doelwit van ’n slaagsyfer tussen 95% en 100% bereik.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.