Central SA
Mynregte-bedrogsaak oorgeplaas na hof vir handelsmisdade─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:48 Wed, 06 Aug 2025

Twee Noord-Kaapenaars, wat daarvan beskuldig word dat hulle ongeldige mynregte verkoop het, se saak is uitgestel tot 9 September en oorgeplaas na die hof vir ernstige handelsmisdaad.
Roslyn Crossingham (72) en Martha Rapetsoa (49) het Dinsdag (8/5) in die Douglas-landdroshof verskyn op aanklagte van mynregte-bedrog, sê ao. Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke.
Crossingham en Rapetsoa is tydens hul aanvanklike hofverskynings op borgtog van onderskeidelik R15 000 en R800 vrygelaat. Crossingham het die eerste keer op 9 Julie in die hof verskyn en is die tweede verdagte wat by die saak gevoeg is nadat Rapetsoa, mededirekteur van Rowen Tree 60, aanvanklik op 19 Junie verskyn het.
Rapetsoa word daarvan beskuldig dat sy ’n aansoek vir die hernuwing van prospekteerregte, wat reeds deur die departement van minerale hulpbronne en energie verwerk is, teruggetrek het.
Na bewering het Crossingham in 2012, terwyl sy as mededirekteur van Rowen Tree 60 gedien het, ook ’n aansoek teruggetrek wat by die departement ingedien is om die maatskappy se prospekteerregte te hernu.
LEES OOK: Twee Noord-Kapenaars terug in hof oor beweerde mynregte-bedrog
Ten spyte daarvan dat sy en haar mededirekteure na bewering die maatskappy – saam met die ongeldige mynregte – in 2015 vir R100 000 aan ’n sakeman verkoop het.
“Voordat die betaling gemaak is, het Crossingham na bewering die maatskappy weer verkoop – hierdie keer aan die klaer, terwyl sy die terugtrekkingsbrief teruggehou het om dit te laat lyk asof die prospekteerregte steeds geldig was.”
Volle R1,368 miljoen verloor
Omdat die klaer geglo het dat die mynregte geldig was, het hy R1,368 miljoen vir die maatskappy betaal.
Volgens Mnisi is R100 000 van hierdie bedrag na bewering in die persoonlike rekening van een van die direkteure betaal. “Die transaksie het na bewering daartoe gelei dat die klaer die volle R1,368 miljoen verloor het.”
Sy sê daar is nog inhegtenisnemings op hande.
OFM Nuus mvh