Central SA
Twee Noord-Kapenaars terug in hof oor beweerde mynregte-bedrog─── CHARNÉ VAN DER MERWE 06:00 Tue, 05 Aug 2025

Twee Noord-Kapenaars wat daarvan beskuldig word dat hulle ongeldige mynregte verkoop het, kom weer Dinsdag (5/8) voor.
Roslyn Crossingham (72) en Martha Rapetsoa (49), wat voorheen op borgtog van onderskeidelik R15 000 en R800 vrygelaat is, sal Dinsdag in die Douglas-landdroshof op aanklagte van mynregte-bedrog verskyn.
Crossingham het op 9 Julie haar eerste hofverskyning gemaak toe sy die tweede verdagte geword het wat by die bedrogsaak gevoeg is nadat Rapetsoa, mededirekteur van Rowen Tree 60, op 19 Junie vir die eerste keer in dieselfde hof verskyn het.
Verwerkte aansoek glo teruggetrek
Rapetsoa word daarvan beskuldig dat sy ’n aansoek om die hernuwing van prospekteerregte, wat reeds deur die departement van minerale hulpbronne en energie verwerk is, teruggetrek het, het ao. Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder, vroeër gesê.
Na bewering het Crossingham in 2012, terwyl sy as mededirekteur van Rowen Tree 60 gedien het, ook ’n aansoek by die departement teruggetrek om die maatskappy se prospekteerregte te hernu.
Ten spyte hiervan, sê Mnisi, het sy en haar mededirekteure na bewering in 2015 die maatskappy – saam met die ongeldige mynregte – vir R100 000 aan ’n sakeman verkoop.
‘Voordat die betaling gemaak is, het Crossingham die maatskappy na bewering weer verkoop’
“Voordat die betaling gemaak is, het Crossingham die maatskappy na bewering weer verkoop – hierdie keer aan die klaer – terwyl sy die terugtrekkingsbrief teruggehou het om dit te laat lyk asof die prospekteerregte steeds geldig was.”
Omdat sy geglo het die mynregte was geldig, het die klaer R1,368 miljoen vir die maatskappy betaal.
Volgens Mnisi is R100 000 van hierdie bedrag na bewering in die persoonlike rekening van een van die direkteure betaal. “Die transaksie het na bewering daartoe gelei dat die klaer die hele R1,368 miljoen verloor het,” het sy bygevoeg.
Meer inhegtenisnemings word in verband met die bedrogsaak verwag.