On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Emfuleni betwis bewerings oor teruggenome verkeerstoerusting

───   ZENANDE MPAME 10:15 Wed, 06 Aug 2025

Emfuleni betwis bewerings oor teruggenome verkeerstoerusting | News Article
Emfuleni betwis bewerings oor teruggenome verkeerstoerusting. Foto: Facebook/Emfuleni Local Municipality

“Dis nie waar dat ’n diensverskaffer die spoed- en data-apparatuur weggeneem het weens wanbetaling nie; dit is ’n flagrante verdraaiing van feite en ongeëwenaarde waninligting.”

Emfuleni-munisipaliteit verwerp bewerings dat spoedverkeerstoerusting en -data deur ’n diensverskaffer teruggeneem is weens onbetaalde rekeninge.

Die munisipaliteit verseker die publiek ’n nuwe diensverskaffer is reeds aangestel wat Woensdag (6/8) 70 handtoestelle vir wetstoepassing voorsien. Beamptes sal dieselfde dag opleiding ontvang.


“Dis nie waar dat toerusting weggeneem is weens wanbetaling nie,” sê Makhosonke Sangweni, Emfuleni-woordvoerder. “Dis ’n flagrante verdraaiing van feite en ongeëwenaarde waninligting.”

Die onttrekking van die vorige diensverskaffer se toerusting het plaasgevind omdat hul driejaarkontrak tot ’n einde gekom het, sê Sangweni. 

“Die toerusting is verwyder as deel van die standaardprosedure wanneer ’n kontrak beëindig word.”

‘Die nuwe diensverskaffer het reeds onderhoude gevoer om poste te vul’

Die munisipaliteit verwerp ook aantygings dat verkeersbeheer ondoeltreffend is weens toerustinguitdagings. Die nuwe diensverskaffer het reeds onderhoude gevoer om poste te vul, rekenaars, drukkers en sagteware geïnstalleer, personeel opgelei, voertuie en mobiele kameras voorsien, en beamptes in staat gestel om spoedoortredings te begin afhandel, sê Sangweni.

Intussen beweer die VF Plus dat Emfuleni se verkeersafdeling nie meer toegang het tot inligting oor uitstaande verkeersboetes wat tussen 2021 en Donderdag 16 Julie vanjaar uitgereik is nie. 

“Dis weens die verwydering van alle toerusting en data deur die vorige diensverskaffer ná kontrakbeëindiging,” sê Emfuleni-rdl. Gerda Senekal.

“’n Nuwe stelsel is eers op 16 Julie in werking gestel. Dit is maar een van verskeie diensverskaffers wat Emfuleni nie kon betaal weens finansiële wanbestuur nie.”

OFM Nuus het vroeër berig dat een van die munisipaliteit se geboue einde Julie deur die verhuurder gesluit is weens agterstallige huur.

Die munisipaliteit sê die situasie is dieselfde dag opgelos en die kliëntedienskantoor is weer in werking.

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.