Central SA
Ou stemboodskap veroorsaak nuwe herrie oor Christenskap aan NWU─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:16 Mon, 11 Aug 2025

’n Stemboodskap waarin die Noordwes-Universiteit (NWU) se godsdiensbeleid onder skoot kom, doen weer die ronde op sosiale media.
Dit is twee jaar gelede vir die eerste keer gedeel, maar lei nou weer tot verontwaardiging. In die boodskap, na bewering deur ene Mira, word beweer Christene op die universiteit se Potchefstroomkampus word verbied om aanbiddingsaande te hou of selfs privaat in hul koshuiskamer te bid.
In die opname, wat die eerste keer in Februarie 2023 aan die lig gekom het, vra Mira mense moet bid vir die universiteit en sy koshuise. Sy beweer studente is meegedeel dat hulle nie meer toegelaat word om hul godsdiens uit te leef nie.
Die universiteit se verklaring wat uitgestuur is rakende die stemboodskap. Foto verskaf
“Ons het hierdie begin van die week … nuus gekry … koshuise mag glad nie meer worship-aande hou nie. En ons het vanoggend toe gehoor studente mag glad nie eers bid in hulle koshuiskamers in … privaatheid nie,” sê ene Mira.
Sy hoop “dat die studente sal wakker word en dat hulle soos met ’n righteous anger sal opstaan en sal sê nee, hierdie is nie reg nie”. ’n Lid van die huiskomitee is kwansuis van haar amp onthef “omdat hulle opgestaan het daarteen”.
In die stemboodskap word beweer die NWU diskrimineer net teen Christene. “Soos enige ander religion mag bid. Soos dit, ek vind dit so onregverdig en ek is so kwaad. Soos vanoggend in ons prayer room het ek soos begin huil.”
Versekering dat godsdiensvryheid op kampus beskerm word
Sy beweer “almal van ons” is geskok, “want prayer is vir ons so gegee dat ons relationship met die Here kan hou en dat ons intimate met Hom kan wees. En nou wil die institusie ook vir ons sê ons mag nie eers dit doen nie.”
Toe die stemnota vroeg in 2023 die eerste keer versprei is, het dit beduidende debat en kommer onder lede van die NWU-gemeenskap en die publiek veroorsaak, sê Louis Jacobs, NWU-woordvoerder.
Die universiteit het destyds die bewerings ten sterkste ontken en studente verseker dat godsdiensvryheid op kampus beskerm word en dat geen sulke beperkings op gebed of aanbidding bestaan nie.
Bewerings belaglik, diep ontstellend
Volgens Jacobs is die bewerings nie net “belaglik” nie, maar ook “lagwekkend en diep ontstellend”. In ’n verklaring Maandag (11/8) het die universiteit gesê sulke bewerings is vals en skadelik, en is daarop gemik om “onenigheid en polarisasie” in die NWU-gemeenskap te skep.
“Geen oortreding van die grondwetlike regte van enige individu sal ooit by die NWU toegelaat word nie,” sê die universiteit en voeg by “enige oortreder wat skuldig bevind word aan die verspreiding van sulke waninligting, sal streng gestraf word”, sê Jacobs.
Hy sê die universiteit distansieer hom van die stemboodskap en vra die publiek om dit te ignoreer omdat dit net ’n “kwaadwillige optrede” is.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs/mvh